Gedagte vir die dag: Vroeg in die oggend

sunrise-1016356_1280.jpg

Foto: brizzy5000, Pixabay

Ek wil vroeg opstaan, met harp en lier wil ek die rooidag wakker maak! Onder die volke wil ek U loof, Here, onder die nasies u lof besing, want u liefde reik tot in die hemel, u trou tot in die wolke! Toon u grootheid, o God, hoog bo die hemel, hoog bo die aarde u mag. (Psalm 57:9–12)

Dawid was op sy dag ’n talentvolle digter, komponis en musikant van formaat. Hy moes hom as jong skaapwagter al besig gehou het met sy lier en het so goed gespeel dat hy later selfs die bose geeste wat Saul gepla het, kon kalmeer (1 Sam 16:14–23).

Uit die psalms van Dawid, is dit duidelik dat musiek hom deur sy lewe bygebly het. Hy het vir harp, fluit, tromme en simbale, asook vir kore en verskillende stemme gekomponeer. Buiten sy herders- en lofpsalms, het hy gedigte geskryf en getoonset toe hy voor sy vyande en Saul gevlug het (Ps 18, 57), klaagliedere oor Kus, die Benjaminiet (Ps 7) en sy seun Absalom (Ps 3), een oor die keer toe hy hom kranksinnig moes hou om van Abimelek af weg te kom (Ps 34), asook treurpsalms in sondebesef (Ps 38, 51). Daarby het hy sy koningskap aan die Here opgedra (Ps 21) en ’n lied vir die inwyding van die tempel geskryf (Ps 30). Dawid het nie net lier gespeel toe hy jonk en verveeld was nie, musiek was deel van sy lewe.

Maar hy is nie die enigste een wat psalms geskryf het nie. Baie van die lie­dere het in die volksmond ontstaan. Asaf, ’n Levitiese musikant en vader van sangers wat in die die tempel opgetree het, het ook gekomponeer (lees 1 Kro­nieke 25:1–31) en Salomo het 1 005 liedere geskryf (lees 1 Konings 4:32).

Maak musiek en lofprysing deel van jou lewe. Prys Hom vroeg in die môre met gebed en sang en Hy sal vandag vir jou sy vreugde gee.

Here, ek wil U met my sang loof en prys, al moet ek dan neurie omdat ek nie kan noot hou nie.

Bron:
Liefde vir elke dag deur Helena Hugo
Uitgewer: Struik Christian Media

Boeke deur Helena Hugo is nou beskikbaar by CUM Boeke
Vir meer geestelike artikels besoek Joy! Digital 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Jan Jooste ·

Baie dankie vir hierdie pragtige stuk uit die Bybel. Wow!!! ‘n Dag wat so begin is ‘n Genade. Na so ‘n wonderdag sluit mens af met Ps 4:9 waarmee: “Ek wil in vrede gaan lê en meteens aan die slaap raak …” voor nóg ‘n wonderdag. Voorspoed!

Johan ·

Baie mooi stuk. Ek sal ook eerder neurie ons vader gaan lekker lag as ek begin sing. Mooidag vir almal

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.