Gedagte vir die dag: Vroue en Jesus

vriendinne_sonsondergang_stiltetyd_pixabay.jpg

Foto: pixabay.com

Lees:  Johannes 20:11-18

Jesus sê vir haar: “Maria!”  Sy draai om en sê vir Hom in Aramees: “Rabboeni!” Dit beteken ‘Leermeester’.  (Johannes 20:16)

Vroue se lojaliteit ken geen perke nie. As ’n mens van die vroue lees wat saam met Jesus gestap het, besef jy hulle het tot die einde toe getrou gebly. Hulle het Hom nie verloën nie. Tydens die kruisiging het hulle hart seer en verslae om die kruis verenig. Hulle het nooit gaan weg kruip en ontken dat hulle Jesus geken het nie. Die vroue het getrou gebly tot op die laaste oomblik wat Jesus sy asem uitgeblaas het.

Toe Maria Magdalena die Sondagoggend na Jesus se graf toe gaan, skrik sy nie vir die engele nie. Sy sien hulle as mans en praat met hulle. Sy deel haar hartseer en wil weet waar Jesus begrawe is. Sy herken ook nie vir Jesus toe Hy met haar praat nie. Toe Hy egter haar naam sê, weet sy dis Hy. Sy het fyn geluister en alles wat Hy vir haar gesê het aan die dissipels gaan oordra. Ek kan my net voorstel hoe die nuus uitgeborrel het toe sy by hulle kom.

In daardie tyd is vroue nie regtig gereken nie en die dissipels sou dalk moeilik na haar geluister het. Dis presies wat ons in Markus 16:10-11 sien: Die hartseer dissipels het na haar geluister, maar haar nie geglo het nie.

Die eerste persoon waaraan die Here ná sy opstanding verskyn het, was ’n vrou. Dit is vir my so spesiaal dat Jesus spesifiek aan hierdie vrou verskyn het; die een waaruit Hy sewe duiwels gedryf het. Maria Magdalena het dalk nie die engele by die graf of vir Jesus dadelik herken nie, maar sy het dadelik gehoorsaam toe sy sy opdrag hoor. Sy demonstreer weereens haar lojaliteit. Haar liefde vir die Here wen weer, sy kruip nie weg nie, maar gaan vertel. Vreesloos gaan dra sy die boodskap oor, al glo niemand haar nie.

Here, maak my vreesloos lojaal teenoor U, die lewende God! Amen.

Bron:
Met ‘n lied in die hart deur Marietjie Joubert
Uitgewer: Christelike Uitgewersmaatskappy

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Von ·

Here Jesus u genade is vir my genoeg. Dankie Here dat U vroue erken vir hulle waarde in die samelewing. Amen

T N ·

En Zuma was ‘n wonderlike president met ongelooflike integriteit ! Dit staan ook in die Bybel ,,,,

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.