Gedagte vir die dag: Vroue is ongelooflik

Ma_kind_stiltetyd_pixabay.jpg

Foto: pixabay.com

Lees: 2 Konings 5:3

Sy het vir haar meesteres gesê: “As Meneer net na die profeet in Samaria kan gaan, sal hy hom van sy melaatsheid gesond maak.”(2 Konings 5:3)

Ek is glad nie ’n feminis nie; ek het net ’n ongelooflike respek vir vroue. Of dalk is dit ’n bewondering wat geen perke ken nie. Vroue is wesens wat respek afdwing. Hulle kook, maak skoon, kraam, maak kinders groot, werk, maak tuin, dien die Here, en so kan ek aanhou.

Wanneer ek die verhaal van Naäman lees, staan ek elke keer verstom. Ek lees met verwondering hoe ’n Joodse slavin, wat geen invloed of sê het nie, ’n generaal se lewe verander. Ons ken nie haar naam nie, maar weet net sy was ’n kombuiswerker. Sy het werk waarop ons normaalweg sal neersien, met trots gedoen. Toe die Heilige Gees haar egter iets op die hart druk, het sy haar lewe gewaag en net een sin gesê.

Merkwaardig genoeg luister ’n generaal en ’n koning na die slavin. Is dit nie absoluut ongelooflik nie! Naäman word gesond van melaatsheid nadat hy by die profeet Elisa was. Hy bely in 2 Konings 5:15 dat die Here die enigste God op aarde is.

Hierdie gebeure laat my weereens besef die Here gebruik ons, maak nie saak wie ons is nie. Jy dink dalk jy het ’n minderwaardige werk, maar dit maak geensins saak aan die Here nie. Vir die Here is ’n persoon se siel belangrik en jy is die instrument.

Ons weet nie wanneer die Here ons nodig het nie. Jy het dalk net een kans om te getuig. Jy kry dalk net een geleentheid om te vertel; daarom moet jy jou voorberei vir hierdie wonderlike geleentheid. As die Here jou nodig het, moet jy eenhonderd persent gereed wees.

Here, ek lewe vir U. Ek wil ’n getuie vir U wees. Maak my gereed vir die oomblik wat U my nodig het. Amen.

Bron:
Met ‘n lied in die hart deur Marietjie Joubert
Uitgewer: Christelike Uitgewersmaatskappy

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.