Gedagte vir die dag: Vrouwees en opdragte gee

sonsondergang_familie_stiltetyd_pixabay-1.jpg

Foto: pixabay.com

Lees: Jakobus 3:1-2

My broers en susters, julle moenie almal leermeesters wil word nie, want julle weet dat God ons wat leermeesters is, strenger as ander sal beoordeel.  Ons maak almal baie foute.  Maar ‘n mens wat sy tong in toom kan hou, kan dit ook met sy hele liggaam regkry. (Jakobus 3:1-2)

Om vrou te wees, is sinoniem met opdragte gee. Ek dink dit is deel van ons wese, ons DNS, ons vrouwees. Vroue gee oor die algemeen baie opdragte. Ons span die kinders in en gee Saterdae vir manlief ’n lysie dinge wat gedoen of reggemaak moet word. En as die opdragte gegee is, moet almal spring.

Ons leer baie by Jakobus oor leefstyl en praat. In Jakobus 3:1-2 sê hy ons moet nie almal leermeesters wil wees nie, want leermeesters word strenger beoordeel. Verder moet ons ook onthou ons almal struikel soms en maak foute. Dit sien ons in hoe ons met mense praat, want dit sê so baie van jou. Ons woorde laat ons soms vasval in ongeduld en lelik praat of skinder. Ons spaar nie die woorde nie. Sommige tye ly ons aan woorddiarree. Die hele gesin loop deur.

Ons as vroue wat so baie verantwoordelikhede tuis en by ons werkplek het, moet versigtig wees met ons woorde. Ons moet dink wat ons sê, maar meer nog, hoe ons dit sê. Luister sommer ’n bietjie na jouself. Ons kan dalk mooier vra en dan sommer ook ’n ander reaksie kry. Ons manier kan dalk sagter word. Ons opdrag kan ’n versoek word. Deur sagter te wees en mooier te praat kry ’n mens veel meer reg as waaraan jy dalk gewoond is of gedink het.

Ek weet dit is makliker gesê as gedoen, maar probeer een keer op ’n dag ’n ander aanslag. Dalk kan Saterdag se lysie opdragte net sê: Almal moet saam aansit vir ontbyt. Dink net hoe verras manlief en die kinders gaan wees oor dié versoek!

Here, ek besef dat ek soms die opdragte laat uitborrel sonder dat ek dit besef. Gee asseblief vir my ’n sagter aanslag. Amen.

Bron:
Met ‘n lied in die hart deur Marietjie Joubert
Uitgewer: Christelike Uitgewersmaatskappy

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.