Gedagte vir die dag: Die vrug van die Gees

Vrugteboord_www_organicguide_com.jpg

Foto: organicguide.com

Die vrug van die Gees, daarteenoor, is liefde, vreugde, vrede, geduld, vriendelikheid, goedhartigheid, getrouheid, nederigheid en selfbeheersing. (Galasiërs 5:22)

As jy Jesus liefhet en tot sy eer leef, sal jy al meer soos Hy wil wees. Geen mens is volmaak nie en niemand kan in elke opsig soos Jesus wees nie. Hy is die volmaakte Lam van God, sonder enige gebrek en sondeloos. Ons is in sonde gebore en ontvang, ons stry daagliks teen die vrug van ons menslike natuur – daardie nare goed wat in Paulus se tyd al bekend was en vandag nog in die pad van ons heiligmaking staan – dinge soos onsedelikheid, onreinheid, losbandigheid, afgodediens, towery, vyandskap, haat, naywer, woede, rusies, verdeeldheid, skeuring, afguns, dronkenskap, uitspattigheid en al dergelike dinge (Gal 5:19).

Dis harde werklikhede wat elke dag voor ons afspeel, waarvan ons in koerante lees en op televisieskerms sien. Dis die hartseerwêreld van mense wat nog nie by Jesus uitgekom het nie. Maar as so iemand Jesus ontmoet, sal hy inmekaarkrimp van skaamte. Al hierdie goed sal soos ’n berg op sy rug voel en hy sal dit wil afskud en vorentoe vir Jesus leef. Neem hom in liefde aan, deel in sy nuutgevonde vreugde en moenie jou eie tekortkominge vergeet nie.

Kyk na die vrugte van die Gees wat Paulus hier opnoem. Nie een van hulle maak ons koud en ongenaakbaar nie. Liefde, vreugde, vrede, geduld, vriendelikheid, goedhartigheid, getrouheid, nederigheid en selfbeheersing is almal eienskappe van ’n sagmoedige, liefdevolle mens.

Lees dit nog ’n keer, kyk waar jy tekort skiet en werk biddend daaraan om jou gesindheid te verander en die hardheid uit jou hart en lewe weg te neem.  Begin by liefde en trou en die ander sal vanself gedy.

Dankie, Jesus, dat U nie swaar laste op ons pak nie, maar dat ons saam met U kan liefhê.

Bron:
Liefde vir elke dag deur Helena Hugo
Uitgewer: Struik Christian Media

Boeke deur Helena Hugo is nou beskikbaar by CUM Boeke
Vir meer geestelike artikels besoek Joy! Digital 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Christelle ·

Neem asb kennis jul artikel begin korrek, dis vrugvrug, laterlater in artikel noem jul ditdit vrugte wat verkeerd is. Hier volg verduideliking. As kind het ek baie gehoor hoe mense praat van vrugte, wat dit laat klink dat liefde en geduld twee verskillende vrugte is wat weer kan beteken dat die een kan sonder die ander. Tot ek eendag mooi kon lees en sien daar staan slegs vrug en was eers verbaas maar toe eers maak die stukkie van die Bybel vir my sin. Dis Vrug maw soos ‘n appel wat as geheel gesien word of ‘n lemoen al het dit verskillende skywe is dit een vrug. So die vrug van die Gees is almal saam, nie losstaande.

Dankbaar ·

Dankie Christelle, hoe meer verduidelikings hoe beter kan ek verstaan.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.