Gedagte vir die dag: Die vrug van genade

 Lemoen_boom_pixabay_stiltetyd.jpg

Foto: pixabay.com

Lees: Johannes 15:9-17

Julle het My nie uitgekies nie, maar Ek het julle uitgekies en julle aangestel om uit te gaan en vrugte te dra, vrugte wat sal hou. So sal die Vader aan julle gee wat julle ook al in my Naam vra. Dit beveel Ekjulle: Julle moet mekaar liefhê! (Johannes 15:16-17)

Nadat Jesus sy dissipels van sy liefde vir hulle verseker het, stuur Hy hulle uit om vir Hom te gaan vrugte dra, blywende vrug te. Hy beveel hulle weereens dat hulle mekaar moet liefhê. En wanneer Jesus later na sy Vader toe opvaar, stuur Hy die Heilige Gees in sy plek na die wêreld. Dit is hierdie Gees wat God se liefde in ons harte uitstort en dit ook vir ons moontlik maak om die vrug van die Gees in ons lewens te dra (Romeine 5:5). God se liefde en genade kan nie van mekaar geskei word nie. God skenk aan jou sy genade juis omdat Hy jou liefhet.

Ek en jy het die dure verantwoordelikheid om die vrug van genade die wêreld in te dra. God het ons uitgekies om aan Hom te behoort nog voordat Hy die wêreld geskep het. Dit is ook Hy wat ons beweeg het om ons lewens aan Hom oor te gee, want net soos genade is geloof ook ’n geskenk van God. Hy verwag dat jou lewe die vrug van sy genade sal dra: dat jy voortaan jou lewe sal wy aan die “goeie dade waarvoor Hy ons bestem het” (Efesiërs 2:10). Om dit reg te kry, sal jy die gesindheid van Jesus in jou lewe nodig hê; eers dán sal die vrug van die Gees in jou lewe raakgesien kan word.

Heilige Gees, dankie dat U God se liefde in my hart uitgestort het. Help my om die vrug van liefde en genade in my lewe te dra. Amen.

Bron:
Jy is myne deur Nina Smit
Uitgewer: Christelike Uitgewersmaatskappy

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

Willie ·

Sonder om afbreek te maak aan die mooi skrywe, wil ek net die skryster daarop wys dat die vrug “enkel” is, en nie soos dit hierbo na meervoud ( verskeie) vrugte verwys nie. Gal 5 . 22 praat ook van die vrug van die Gees. Een vrug, verskeie segmente. Een mens kan nie verskeie vrugte dra nie. Dit skep bietjie verwarring Liefde groete.

zelda ·

Die koerante moet meer positiewe berigte soos die in plaas.
Dankie

Div ·

Skrywer het dit reg…ek en jy dra vrugte. Die vrug van gees is nie meervoud maar ongelukkig kan ons nie net dai vrug dra nie. Ons dra slegte vrugte ook. Natuurlik is die meervoud nodig skrywer verwys nie na Gal 5 nie, Willie. Kyk weer! Dankie Nina waardeer die boodskap! Laat ons vrugte dra wat vir Hom aanneemlik is..

Willie ·

Div, n boom KAN NIE verskillende vrugte dra nie. Maar ons gaan nie stry nie. Johannes 15 ( in die skryster se berig) sê die Woord ( nie Willie nie) dra dan vrug (16) so dat julle vrug kan bly. Groete Div.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.