Gedagte vir die dag: Vrye toegang tot genade

Stiltetyd_wolke_plaas_Floris-Booysen-13.jpg

Foto: Floris Booysen

Lees: Romeine 5:1-11

God het ons dan nou vrygespreek deurdat ons glo. Daarom is daar nou vrede tussen ons en God deur ons Here Jesus Christus. Deur Hom het ons in die geloof ook die vrye toegang verkry tot hierdie genade waarin ons nou vasstaan. (Romeine 5:1-2)

Daar is ’n motorplakker met die boodskap “Genade gebeur”. Genade is nie iets wat ons kan láát gebeur nie. Dit gebeur mét ons. God gee dit vir elkeen wat daarom vra, onverdiend en gratis. Philip Yancey definieer genade in sy boek What’s so Amazing about Grace? as: “’n Onverdiende geskenk wat onverwags van Buite kom. Ons hoef nie vir genade te betaal nie; God gee dit verniet aan mense wat dit nie verdien nie, en ek is een van daardie mense.”

Genade is dalk verniet, maar daar is wel ’n voorwaarde aan verbonde. God skenk dit aan ons, omdat Jesus deur sy kruisdood hierdie skenking moontlik gemaak het. Ons aangebore sondigheid vorm ’n buffer tussen ons en God, en verhinder sy genade om by ons uit te kom. Gelukkig maak Jesus vir ons die deur van genade oop. As ons in Hom glo, gee Hy vir ons vrye toegang tot God se genade. En dis nie al nie – omdat jy glo, mag jy nou al reeds uitsien na die heerlikheid wat eendag in die hemel vir al God se kinders wag.

Glo jy al in Jesus? Dan is God se onbegryplike genade reeds joune. Al wat jou nou te doen staan, is om jou hande uit te steek en dit vir jou te neem.

Hemelse Vader, ek loof U dat U my vrygespreek het omdat ek in Jesus vrye toegang tot u genade het. Dis wonderlik om te weet dat u genade reeds myne is – en dat ek dit maar net in ontvangs kan neem. Amen.

Bron:
Jy is myne deur Nina Smit
Uitgewer: Christelike Uitgewersmaatskappy

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Pieter.v ·

Dis waar God se genade is groot ,en ons besef nie hoe groot nie ,dis omdat God groter is as wat ons ooit kan dink,ek kan my verstom as ek na die berge kyk en die stilte waarneem,ek dink by myself hoe groot moet God wees om ons sulke mooi natuur te skep ,as daar deur Meirings poort of die Drakensberge by die Abel Erasmus pas of enige ander bergpas gery word of as u naby berge bly staan net vir n oomblik stil , luister en kyk, en weet dat God groter as dit is,en dan het ons nog nie eens na die oseane en riviere gekyk nie,maar dit alles in ag genome God is groter as die wereld om ons die feit dat ek hier is ,is n bewys van sy groot genade

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.