Julle moenie die rede vir my koms misverstaan nie. Ek het nie gekom om ’n streep deur die wet of die profete te trek nie. Ek het gekom om die ware bedoeling van God se wet te laat uitkom. (Matteus 5:17)
Wat ’n ontnugtering om te besef dat Jesus die meeste kritiek gehad het vir die mense wie se leerstellings die naaste aan Syne was – die Fariseërs, die Skrifkenners wat so getrou was in hul godsdiens.
Jesus tref ’n vergelyking tussen twee mense wat na die tempel toe gekom het om te bid. Die Fariseër se woorde het gedrup van selfverheerliking. Hy verkry status deur homself te verhef en ander te verneder. Jesus beskryf die ander man, ’n tollenaar: “Die tollenaar wou selfs nie na die hemel opkyk nie. Hy het gesê: ‘O God, wees my, sondaar, genadig!’” Christus het gesê: “Hierdie man gaan huis toe as iemand wie se saak met God reg is” (Lukas 18:9-14).
Maar hoe kan die sondaar vrygespreek word? “Abraham het in God geglo, en God het hom vrygespreek” (Romeine 4:3). Vryspraak is nie die gevolg van geloof in jouself nie, maar wel in Jesus. Ons almal het Hom nodig asook die verlossing wat Hy bied.
Ek is ’n veragtelike sondaar, maar Jesus is ’n algenoegsame Verlosser. – John Newton
Dankie Here Jesus dat U bloed my van my sondes verlos het