Gedagte vir die dag: Vullisdag  

aanbid_stiltetyd_pixabay.jpg

Foto: pixabay.com

Dan sou U my oortreding in ’n sak verseël en my sonde toemaak. (Job 14:17)

Dis Maandagoggend, wat beteken die vullissakke moet toegeknoop en uitgesit word. Nie ’n lekker werk nie, maar dit móét gedoen word. Wanneer ons vergeet of die sakke staan oor vir ’n week of wat, kan die gevolge duidelik gesien en geruik word. Dis ook nie ’n baie aangename ervaring om sulke oggende te gaan draf wanneer die swart sakke jou soos soldate staan en aangluur nie – die reuke is glad nie goed op ’n mens se leë maag nie …

Job sit vanmôre as’t ware hier buite op ’n “swart sak” langs die pad – miskien wens hy die vullistrok wil hom ook sommer oplaai en “dump” saam met die spul sakke êrens by ’n stortingsterrein. Hoe dikwels voel ons nie maar ook soos Job nie – hierdie laste wat ons saamdra met al die reuke en geure wat afgee sover ons gaan.

Job het die versugting gehad: My sonde sal verseël wees in ’n sak. Want God bind sonde toe en raak ontslae daarvan. Toegeknoop of verseël – beslis nie om ooit weer oopgemaak te word nie!

Maar in Jesus Christus is daar nuwe hoop – nie net vir Job nie, maar ook vir my en jou. Hy verseël daardie swart sak vol van die vullis van my lewe, met al die reuke en geure, en verwyder nie net die sakke nie (so ver soos die ooste van die weste), maar laat kom in die plek daarvan iets wat skoon en sonder vlekke is, gewas in sy bloed, om ons witter as sneeu te maak. Hy kyk nou na my en jou en sien nie meer ’n vullissak raak nie, maar sien ons deur die bloed van sy Seun, as sy handewerk, ’n skoon vars geur deur wie Hy sy kennis kan versprei (2 Kor. 2:14).

Here, dankie dat U ons sonde en skuld kom toeknoop, verseël en verwyder het sodat ons vandag kan opstaan – nuut, vry, skoon en vergewe om ’n vars, aangename geur te versprei. Amen.

Bron: Vroue van die Woord deur Jannie Pelser
Uitgewer: Christelike Uitgewersmaatskappy

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

Elize ·

Ek bid so hard vir oorplasing om na my ouers en kind te gaan dankie Heer

Von ·

Bid saam met jou Elize…..dankie Here vir genade onbeskryflik groot. Dankie dat U ook Elize se gebed hoor en op die regte tyd uitkoms sal bring…Amen

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.