Gedagte vir die dag: Vurige gebed

Arms_uitgestrek_bid_stiltetyd_pixabay.jpg

Foto: pixabay.com

Moenie ophou bid nie. (1 Tessalonisense 5:17)

’n Goeie manier om ons verhouding met die Meester te meet, is deur te kyk hoeveel tyd ons aan gebed bestee. Daar word gesê dat Martin Luther al hoe meer tyd in gebed deurgebring het namate hy besiger geword het. Hoe meer verantwoordelikhede hy moes nakom, hoe vroeër het hy soggens opgestaan. Die teenoorgestelde is waar van ons: Hoe besiger ons word, hoe minder tyd bring ons in gebed deur.

Onthou jy hoe baie jy gebid het toe jy pas jou lewe vir Jesus gegee het? Hoeveel tyd bring jy nou saam met die Here deur? As jy die situasie nie regstel nie, kan dit dalk rampspoedig wees. Die Here vereis dat ons tyd aan gebed afstaan, en dis net ’n dwase gelowige wat nie gehoor gee aan hierdie opdrag nie.

Gebed is die lewensbloed van die kerk. Elke herlewing wat nog ooit gebeur het, het begin omdat mense begin bid het. Ons moet voortdurend bid. As ons verhouding met die Here vir ons belangrik is, behoort dit nie vir ons moeilik te wees om tyd in sy teenwoordigheid deur te bring nie.

Daar is verskillende soorte gebed: daar is korporatiewe gebed, wanneer ons saam bid. Daar is ook voorbidding, wanneer ons vir ’n spesifieke situasie of persoon intree. Die gebed waarvan ek praat, is egter persoonlike, individuele gebed – gebed tussen elke gelowige en God.

Gebed is ’n natuurlike ding; dit verg nie inspanning nie. Dit behoort net so natuurlik as asemhaling te wees vir ’n Christen. Gebed beteken nie net jy praat nie – dit beteken ook om te luister en op God te wag.

Onthou die gesegde: “As mense werk, werk hulle. As mense bid, werk God.”

Liewe Here, dankie vir alles wat gebed kan vermag. Mag ek nooit die krag onderskat wat gebed het om lewens te verander nie. Ek wil moeite doen om meer met U te praat en meer te luister na wat U vir my wil sê. Ek bid dit in Jesus se Naam. Amen.

Bron:
Genade in oorvloed deur Angus Buchan
Uitgewer: Christelike Uitgewersmaatskappy

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.