Gedagte vir die dag: Vuurproef

Foto: Reint Dykema

Foto: Reint Dykema

Lees: Jesaja 43:1-7

Moenie bang wees nie, want Ek het jou verlos. Ek het jou by jou naam geroep. Jy behoort aan My. Wanneer jy deur vuur van verdrukking stap, sal jy nie verbrand nie. Die vlamme sal jou nie verteer nie. Want Ek is die HERE jou God, jou Redder. (Jesaja 43:1-3, NLV)

In die tyd van die profeet Jesaja is God se volk in ballingskap weggevoer vanweë hulle sonde en volgehoue ongehoorsaamheid aan Hom. Maar hier in die vreemde gaan dit só sleg met hulle, hulle besluit om na God terug te keer. Hulle meen dat God hulle verlaat het, maar dit is nie so nie. By monde van die profeet Jesaja bevestig God dat die volk steeds aan Hom behoort, dat Hy by hulle sal wees, hulle sal red en beskerm wanneer hulle deur vuur moet gaan. In hulle swaarkrysituasies is Hy daar vir hulle. Hy het hulle steeds lief en is by hulle, slaggereed om hulle uit die ballingskap te verlos en hulle weer na hulle land te laat terugkeer.

Alhoewel lyding een van die gevolge van die sondeval is en niemand daaraan kan ontkom nie, word ons tog altyd daardeur onkant gevang. Maar God laat sy kinders nooit alleen in vuurproefsituasies nie. Dit is nooit sy wil dat sy kinders moet swaarkry nie. Hy laat wel swaarkry in die lewe van sy kinders toe as Hy die swaarkry wil gebruik om sy doel met hulle te bereik, hulle sy wil te laat leer ken en hulle nader aan Hom te trek. Wanneer jy in só ’n vuurproef beland, kan jy met vertroue op God se teenwoordigheid en redding reken. Hy wil ook jou God en Redder wees.

Here God, ek loof U dat U by my sal wees wanneer ek deur vuur moet gaan; dat U my juis dan sal beskerm omdat ek aan U behoort. Amen.

Bron:
Jy is myne deur Nina Smit
Uitgewer: Christelike Uitgewersmaatskappy

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

MUIS ·

Baie baie dankie dit is en sal altyd so wees, sonder God in ons lewens beteken ons niks, sal ons nooit kan oorleef nie Amen en alle eer aan on Heer! Geloof Hoop en Liefde van Onse Vader!

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.