“Watter soort mens is Hy dat selfs die wind en die see Hom gehoorsaam?” (Matteus 8:27)
Op die voorlaaste dag van ons vakansie waai dié wind erg en dit is ondraaglik warm. “Kom ons gaan eet pizza op Bathurst,” stel Johan voor. Ons laai vir Tinder, ons hond, agter in die motor en kies koers Port Alfred toe. Op Bathurst is dit windstil, maar ’n ongenaakbare 35 grade Celsius. Ons eet ons pizza so gou moontlik om net weer terug te kom in die lafenis van die motor se lugversorging.
“Kom ons gaan kyk hoe lyk dit by die Visrivier-vuurtoring,” stel ek op pad huis toe voor. By die naambord draai ons af op ’n grondpad. Dit voel nie of ons in die rigting van die see beweeg nie. Uiteindelik kom ons by ’n hek wat wys ons het ons bestemming bereik. Nêrens sien ons die toring nie.
Maar dan, om een draai, doem die ligtoring skielik groot en indrukwekkend voor ons op, rooi en wit afgeëts teen die diepblou lug.
Op pad huis toe bly ek aan die toring dink. Hoe dit vir seevaarders en ander soekende siele rigting aanwys in die digte mis en in die diepste donker van die nag. Hoe dit, net soos ons hemelse Vader, ’n baken in tye van storms is.
Voel jy vandag oorweldig deur die storms van die lewe? Weet dat God daar is om jou met sy lig na veiligheid te lei.
Vader, dankie dat U die groot vuurtoring is wat my veilig deur die storms lei. Amen.
Prys die Here God!
Baie dankie vir hierdie besonderse boodskap. Het dit baie nodig gehad. Wat dit meer spesiaal maak is die feit dat ons ook al by daardie selfde vuurtoring was.