Vyf ‘vakansieparadyse’ wat g’n vakansie vir Christene is nie

Wanneer jy ʼn vakansie na die buiteland beplan, kan dit goed wees om ʼn bietjie navorsing oor jou moontlike bestemmings te doen. ʼn Skokkende realiteit is dat van die gewildste internasionale vakansiebestemmings en strandparadyse ook lande is waar Christene daagliks uiterste vlakke van vervolging ervaar. Hierdie lande spog wel met natuurskoon, toeriste-aantreklikhede en ʼn ryk kultuur, maar vlak onder die oppervlak lê daar ‘n ander waarheid. Hier volg ʼn lys van vyf gewilde toeristebestemmings wat ook op Geopende Deure se 2018 Wêreldwaarnemingslys is; ʼn lys van die top 50 lande waar Christene die ergste vervolging vir hulle geloof ervaar.

Maledive

Sonsondergang in Maledive (Foto: © Geopende Deure Internasionaal)

Bekend vir sy tropiese eilandgebergtes wat ​​uit meer as ʼn duisend koraaleilande bestaan, is Maledive ʼn gunstelingbestemming vir toeriste en veral paartjies. Maar as nommer 13 op die 2018 Wêreldwaarnemingslys, is Christenskap nie welkom in hierdie land nie.

Die regering van Maledive dring daarop aan dat die land volgens konserwatiewe Islamitiese beginsels regeer word en dat alle landsburgers Moslems moet wees. Daar is geen godsdiensvryheid in Maledive nie, behalwe vir buitelandse Christenwerkers wat hul geloof in uiterste privaatheid mag beoefen.

Minder as 1% van die land se bevolking is Christene. Met die streng waarneming deur die regering, kan gelowiges nie mekaar ontmoet nie en verlang hulle na geestelike voeding en samesyn.

Verenigde Arabiese Emirate (VAE)

Die Burj Al Arab, die 7-ster hotel in Dubai (Foto: © Geopende Deure Internasionaal)

Die VAE (nommer 40) is bekend vir luukse stede soos Dubai, met tophotelle en winkelsentrums, uitsonderlike argitektuur en pragtige strande, maar om ‘n Christen in die Emirate te wees gaan met baie uitdagings gepaard.

Alhoewel buitelandse Christen-gemeenskappe relatief vry is om hul geloof te beoefen, is dit vir landsburgers ʼn ander storie.

Volgens wetgewing kan burgerlikes wat van Islam bekeer, doodgemaak word, alhoewel dit in baie jare nog nie uitgevoer is nie. Bekeerlinge uit Islamitiese agtergrond hou daarom dikwels hul geloof ʼn geheim uit vrees vir die nagevolge.

Indië

Taj Mahal in Indië (Foto: © Geopende Deure Internasionaal)

‘n Ontploffing van kultuur, helderkleurige sari’s, unieke blare soos die frangipani en natuurlik die Taj Mahal is net van die aantreklikhede in Indië. Maar in hierdie digbevolkte land heers daar ook uiterste godsdienstige en nasionalistiese spanning.

In die laaste paar jaar het Indië vinnig geklim op die Wêreldwaarnemingslys, en lê in 2018 in die 11de plek van lande met die ergste vervolging van Christene.

Die radikale Hindoe-nasionalistiese beweging beskou Christene in Indië as buitestanders en hierdie groep het ten doel om die nasie van beide Islam en Christenskap te reinig.

Vervolging in Indië gaan gepaard met baie geweld. Gelowiges word dikwels fisiek aangerand of soms vermoor. Christen-vroue is dubbel so kwesbaar weens hul geslag en geloof en die vervolging wat hulle ervaar is baie meer intens. Tog draai die regering ʼn blinde oog vir die aanvalle op godsdienstige minderhede.

Mexiko

Ou geboue in Oaxaca (Foto: © Geopende Deure Internasionaal)

Met die ryk kultuur, pragtige weer en eersteklas strande, is Mexiko deesdae ’n gunsteling reis- en vakansiebestemming, veral vir toeriste van die VSA. Ten spyte daarvan dat Mexiko (nommer 39) ʼn land is met ʼn Christen-meerderheid, is vervolging steeds ʼn probleem. Mexiko gaan gebuk onder korrupsie op alle vlakke, wat verskeie vorme van vervolging tot gevolg het.

Die uitbuiting van kerkleiers en Christen-besigheidseienaars deur kriminele groepe en dwelmkartelle is ʼn algemene probleem. Om kerkdienste by te woon, verhoog die moontlikheid van ontvoerings en jongmense is veral in gevaar om deur bendes gewerf te word. Dwelmrehabilitasieprogramme en jeugwerk word as ʼn direkte bedreiging van die belange van dwelmkartelle gesien. Christene wat betrokke is by dwelmrehabilitasieprogramme word veral geteiken en vervolg.

Viëtnam

Viëtnamese vrou wat aandenkings verkoop (Foto: © Geopende Deure Internasionaal)

Viëtnam is bekend vir sy borrelende stede, lewendige kultuur, en Boeddhistiese pagodes. Dit is ‘n gewilde reisbestemming en onlangs ook ʼn plek waarheen baie mense van Engelssprekende lande (insluitend Suid-Afrika) gaan om skool te gee. Maar, in posisie 18 op die 2018 Wêreldwaarnemingslys, is Viëtnam een van slegs vyf lande in die wêreld wat steeds deur ‘n kommunistiese regering beheer word.

Christene in Viëtnam ervaar beduidende vervolging. Christen-gemeenskappe gaan gebuk onder arrestasies en die konfiskering van eiendom deur owerhede. Bekeerlinge van Boeddhisme, of ander gelowe tot Christenskap ervaar die ergste vervolging, nie net deur die owerhede nie, maar ook deur familie, vriende en bure.

 

Hierdie is maar net vyf van die top-50 lande waar Christene erge vervolging vir hulle geloof ervaar. Maar moenie dat dit jou afskrik om die lande te besoek nie! Dit is wel belangrik om bewus te wees van die vervolging wat ons Christenbroers- en susters in hierdie lande in die gesig staar, en die gebrek aan godsdiensvryheid in plekke wat skynbaar idillies is! Wanneer jy moontlik een van hierdie lande besoek, kan jy nou met ander oë na die landsburgers kyk en selfs die tyd neem om die gelowiges in die land in gebed op te dra.

Lees meer oor Christen-vervolging op Geopende Deure se webwerf. Klik hier om op hoogte te bly van nuus en gebedsversoeke vanuit die vervolgde Kerk.

Kyk uit vir die bekendstelling van die 2019 Wêreldwaarnemingslys op 16 Januarie 2019 van die top-50 lande waar Christene die ergste vervolging vir hulle geloof ervaar.

Volg Geopende Deure op sosiale media:
Facebook
Twitter
YouTube
Instagram

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.