Gedagte vir die dag: Waak saam met Jesus

familie-rivier-pixabay-stiltetyd.jpg

Foto: pixabay.com

“ … Bly hier en waak saam met My”. (Matteus. 26:38)

Waak saam met My. In werklikheid het Jesus gesê: “Waak sonder persoonlike motief of eie standpunt: waak uitsluitlik en volkome saam met My.” In die vroeë stadium van ons Christelike lewe, waak ons nie saam met Jesus nie, maar bly op die uitkyk vir Hom. Ons waak nie eers saam met Hom deur middel van die geopenbaarde waarheid van sy Woord in ons eie lewensomstandighede nie. Ons Heer probeer om ons bekend te stel aan ’n besondere wyse van identifikasie met Homself, deur ons eie “Getsemane-ervaring”. Maar ons weier om te gaan en sê: “Nee, Here, ek kan nie die betekenis hiervan insien nie, en buitendien, dit is heeltemal te pynlik.” En, hoe kan ons moontlik saam met iemand waak wat so onverstaanbaar is? Hoe sal ons Jesus voldoende verstaan om saam met Hom in sy Getsemane te waak, as ons nie eers weet waarom Hy ly nie? Ons weet nie hoe om saam met Jesus te waak nie, ons is slegs gewoond aan die idee dat Jesus saam met ons waak.

Die dissipels het Jesus liefgehad so ver as wat hul natuurlike vermoë dit toegelaat het, maar hulle het nie sy doel ten volle verstaan nie. In die tuin van Getsemane het hulle aan die slaap geraak as gevolg van hul eie hartseer, en aan die einde van drie jaar van die intiemste verhouding van hul lewe, het hulle … Hom in die steek gelaat en weggehardloop (Matt. 26:56).

Almal is met die Heilige Gees vervul … (Hand. 2:4). Almal verwys hier na daardie selfde mense, maar tussen daardie twee geleenthede het wonderlike dinge gebeur: ons Here Jesus se dood, opstanding en hemelvaart, en die dissipels was nou in besit geneem deur en vervul met die Heilige Gees. Die Here het gesê: “ … julle sal krag ontvang wanneer die Heilige Gees oor julle kom … ” (Hand. 1:8). Dit het beteken dat hulle geleer het om saam met Hom te waak vir die res van hul lewe.

Bron: My allerbeste vir Sy Hoogste deur Oswald Chamber
Uitgewer: Christelike Uitgewersmaatskappy/CUM

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Nico ·

Waar is die wat moet waak saam met Jesus, is hulle aan die slaap gevind soos die dissipels..

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.