Waar kom die tradisie van Advent vandaan?

(Foto: Dan Kiefer/Unsplash)

Die voorbereiding vir Kersfees het ’n lang tradisie. Reeds so vroeg as in die vierde eeu n.C. is daar in Spanje en Frankryk begin met liturgieë wat dui op die kerklike voorbereiding vir Kersfees. In die sesde eeu is soortgelyke liturgieë ook in Rome in gebruik geneem. In Rome was dit aanvanklik egter net bekend as ’n enkele dag se vas ter voorbereiding van Kersfees. Gregorius die Grote was die eerste persoon wat die lengte van Advent vasgestel het op vier weke. Die tema van die Tweede Koms van Christus was altyd dominant in hierdie kerklike seisoen. Tot so laat as die twaalfde eeu was dit beskou as ’n tyd waarin wit klere gedra is en die “Gloria in Excelsis” gesing is.

Simbole en rituele in Advent

In Adventtyd word die hoop op Christus in die eredienste, maar ook in jou persoonlike lewe gevier. Dit is ’n besondere simboolryke tyd en bied die geleentheid om deur allerlei simbole en rituele ons geloof te vier.

  • Sedert die 16de eeu is purper die gebruiklike kleur vir Advent in die Westerse kerk. Soms is blou ook gebruik. In die antieke wêreld was purper die koninklike kleur omdat net die koninklikes dié kleurstof kon bekostig.
  • Een van die sterk visuele hulpmiddels in dié tyd is die sogenaamde Adventkrans. Dit bestaan meesal uit vier kerse en ’n groter wit Christuskers in die middel. Drie van die kerse is purper of donkerblou en ’n vierde rooskleurig. Dit kan bydra tot die gevoel van verwagting deur op elke Adventsondag ’n kers aan te steek. Die gebruik om gewoonlik elke Sondag ’n kers aan te steek, terwyl die vorige kerse wat aangesteek is bly brand met die aansteek van ’n volgende kers. So brand al vier kerse tydens die vierde Sondag, terwyl die groot wit Christuskers in die middel op Kersdag aangesteek word. Die rooskleurige kers, wat juis ’n uitsondering van die ander kerse is, word gewoonlik op die derde Sondag aangesteek deurdat hierdie Sondag se kers geassosieer word met die vreugde wat tiperend is van ons Adventvieringe. Die Adventkrans self leen dit uitstekend tot veral skool- en gesinsaktiwiteite rondom die betekenis van Adventstyd. Vir kinders is dit ’n uitstekende manier om die betekenis van “om te wag” oor die vier weke tot en met Kersdag tuis te bring.
  • In baie tradisies is dit ook ’n bekende gebruik om kinders in Adventtyd te betrek by die maak van ’n Adventkalender. ’n Adventkalender help ons om die dae af te tel tot Kersfees, en bring dus ook iets tuis van afwagting en ’n geduldige wag waarvan Advent die betekenis dra. Een van die gewildste vorme van so ’n kalender is dat dit in die vorm van ’n huis is met vier vensters en een deur. Dit word gewoonlik op karton geteken en gemaak, maar op so ’n manier dat die venstertjies en deur kan oopmaak. Verskillende kinders kan dan verantwoordelikheid aanvaar vir ’n venstertjie en iets daaragter teken of plak wat met die Kersboodskap geassosieer word. Elke Sondag is dit dan deel van die verrassing as een so ’n venstertjie oopgemaak word, terwyl die deur op Kersdag self oopgemaak word.
  • Die gebruik van die Kersboom is baie bekend. Tog het dit ’n sterker godsdienstige betekenis as wat die meeste mense vermoed. Die Kersboom verwys terug na die boom van die lewe in die tuin. Die boom herinner ons so aan die skepping, asook dat Christus weer sal kom om die skepping te verlos (Rom 8:19- 20). Die voorbereiding en versiering van die Kersboom kan iets van die voorbereiding en wag op die koms van die Koning weerspieël.
  • Die tradisie van die Isai-stomp sluit aan by die teksvers uit Jes. 11:1, waar ons lees dat ’n takkie uit die stomp van Isai sal uitspruit. Volgens tradisie word die stomp van Isai (ook genoem die familieboom van Jesus) gesimboliseer deur ’n droë stomp met ’n rooi lint daarom.
  • Woorde soos Maranata (Kom, Here Jesus) en Immanuel (God met ons) kan ’n sentrale plek in Adventtyd inneem en vir kinders verduidelik word.
  • Die gedagtes van wag en waak is sentraal in Adventtyd, en stilte is hiervoor belangrik. Stilte kan juis as alternatief dien op die gejaag en geraas wat dikwels met die tyd voor Kersfees gepaardgaan.
  • Die sing van Kersliedere in eredienste en by ander byeenkomste, dra by tot die viering van die Adventtyd.

Kleure tydens Advent en met Kersfees

Die kleure tydens Advent moet ons herinner aan die koms van die Koning. Die mees algemene kleure wat gebruik word, is daarom koningsblou en purper. (Let wel – nie pers nie).

Op Kersdag is die kleure wit en goud. Hierdie kleure kan gebruik word ook in die dae ná Kersfees tot Epifanie, die 6de Januarie. Die kleur verander dan na groen.

Dit is ’n omvattende proses om die reg en verkeerd van die gebruik van Christelike gedenkdae uit te pluis. In die VSA is daar ’n toutrekkery tussen mense wat verkies om ander “a merry Christmas” toe te wens, en dié wat dit as polities korrek beskou om na “Happy Holidays” te verwys. Benewens Kersfees vier die Amerikaners ook Thanksgiving met ’n groot aantal verklarings, maar basies om mense wie se voorouers van elders gekom het, die geleentheid te gee om dankbaar te wees dat hulle nou Amerikaners is. Dit word amper soos Kersfees gevier, kalkoen en al, en ’n lied wat oorspronklik vir Thanksgiving geskryf is, “Jingle Bells”, het ’n Kerslied geword al is daar geen verwysing na Kersfees of Jesus in die bewoording nie. En presies waar sou die Geloftefees se posisie as verwant aan Kersfees in Suid-Afrika, of dan ten minste die Afrikaners, staan?

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

6 Kommentare

annie ·

Dit is uitlandse gebruike met veral Roomse Katolieke afkoms. Om bloot tradisies na te boots sonder ware geloof is sonde en nutteloos, hoewel winkels en sommige kerke muntslaan uit die spektakels en die hogere Nederlandse terme vermeld. Christus se koms het offerhandes vervang ter vergewing van sondes. ‘n Goeie oorredingstegniek, teatraal verfraai met kerse en koekies, toor nie onwaarhede in waarheid nie… self nie na 2 000+jaar se probeerslae nie.

Nico ·

Ek voel ons moet verby kyk na die geboorte, kyk en vra liewer hoekom het Jesus gekom, Hy het gekom om die wêreld te red van sonde.

Hendrik ·

Die baba Jesus is die Seun van God, het gesterf vir ons sonde, opgestaan en opgevaar in die hemel om vir ons in te staan todat ons daar is. Die Heilige Gees is met ons, saam ons in elke stappie van ons lewe.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.