Gedagte vir die dag: Waar sal my hulp vandaan kom?

uitgestrekte_hand_stiltetyd_pixabay.jpg

Foto: pixabay.com

My hulp kom van die Here wat hemel en aarde gemaak het. (Psalm 121:2)

Die vraag na volhoubaarheid van ons lewenspatrone en die vermoë van die aarde om aan te hou “voorsien” in ons uiters buitensporige eise, is lank nie meer net ’n teoretiese aangeleentheid nie. Dit het letterlik ’n vraag na oorlewing geword. Waar mense se heerssug en hebsug losgelaat word, word die aarde ’n blote objek wat eintlik met minagting geëksploiteer word.

Ons sal moet leer om nie net na die skepping te kyk nie, maar ook (en veral) na die Skepper van die skepping. Natuurlik is dit geloofstaal, die taal waarin ons ons eie onmag en diep onvermoë moet verwoord, die onvermoë om onsself te help … en onsself te red.

Dit kom juis na vore in ’n tyd wat Israel as die donkerste uur van hulle bestaan beleef, die uitlewering aan die groot, verslawende mag van die supermoondhede van hulle dag. As God as die Skepper van hemel en aarde bely word, verwoord hulle die troos van die genadige werklikheid dat ons nêrens kan kom waar Hy nie reeds is nie.

Hand aan hand met hierdie belydenis loop die diepe oortuiging dat Hy die Onvergelyklike is, die enigste God. Hierdie God leef … as die onuitputlike Bron van hulp en lewe en redding.

Kan ons nou óók op sy hulp staatmaak? Duisend maal ja! En terwyl ons van staatmaak, van vertroue praat … mag Hy ons van onsself bevry sodat Hy ons kan “oortel” in ’n lewenstyl van vergenoegdheid, soberheid en diep eerbied vir Hom en sy handewerk.

Here, die penarie waarin ons ons bevind, is ons eie maaksel, en ons kan nie van die nare neiging in ons vry raak as U ons nie vrymaak nie. Verlos ons van onsself. Amen

Bron:
Manne van die Woord deur Jannie Pelser
Uitgewer: Christelike Uitgewersmaatskappy

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

SNEL ·

Dis wonderlik om op n Groot en Almagtige God te vertrou. Wat nooit laat vaar die werke van Sy hande nie, wat nooit verander nie. Wat al gebeur slegte goed, Hy dra my en Hy gee uitkoms en Hy laat alles ten goede uitwerk vir my en die wat Hom lief het. Mense stel teleur, ek self maak verkeerde besluit, maar ek weet my God gee hulp en uitkoms, van Hom alleen sal my hulp kom. So is ek Sy hande en voete hier op aarde en is ek hier om n helpende hand vir iemand in nood wees. Prys die Here van hemel en aarde, wat trou bly tot in ewigheid.

Von ·

Snel stem 100% saam met jou ……ons God is die enigste en ware God wat ons ken beter as wat ons ons self ken . Dankie Here in U hande is ek geborge. Amen

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.