Gedagte vir die dag: Waar u gaan, sal ek gaan

pad_woud_bos_stiltetyd_pixabay.jpg

Foto: pixabay.com

Maar Rut het geantwoord: “Moet my tog nie dwing om van u af weg te gaan en om om te draai nie, want waar u gaan, sal ek gaan; u volk is my volk; u God is my God.” (Rut 1:16, 17)

In die gewone dag-tot-dag-bedrywighede ontdek ’n mens soms vriendskap uit ’n onverwagse oord. ’n Skugter buurvrou wat in ’n moeilike tyd ongemerk ’n hand na jou uitsteek. Die dame by die kerkkantoor wat jou belangstelling in boeke deel en mettertyd ’n gewaardeerde vriendin raak. Die ma van een van jou kinders se klasmaats in wie jy ’n sielsgenoot ontdek.

Een van die aangrypendste Bybelverhale oor vriendskap is dié van Rut en Naomi. Naomi is ’n vrou wat haar krag in God vind. Sy verlaat haar geboorteland saam met haar man en seuns vir ’n beter toekoms in die vreemde Moab. Ná haar man en seuns se dood besluit sy om vrou-alleen terug te keer Israel toe. Dit verg moed en daadkrag. Sy pleit by haar skoondogters, Rut en Orpa, wat saam met haar wil gaan om terug te keer na hul land en familie en gode, maar Rut weier.

Haar woorde aan Naomi  word vandag nog wyd aangehaal: Waar u gaan, sal ek gaan; u volk is my volk; u God is my God. Dis nie net die woorde van ’n skoondogter aan ’n geliefde skoonma nie. Dis die woorde van  ’n vrou aan haar mentor en geesgenoot sonder wie se vriendskap sy nie wil leef nie. Boonop iemand by wie sy méér as vriendskap gekry het.

Want deur Naomi ontmoet Rut ook Naomi se God.

Here, ek wil só lewe dat ander U deur my sal leer liefkry. Amen

Bron: Die Here is my Herder deur Lizette Murray
Uitgewer: Christelike Uitgewersmaatskappy/CUM

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.