Gedagte vir die dag: Waardevolle lewenslesse

sout-man-dra-swaar-stiltetyd.jpg

Foto: pixabay.com

“Dit is egter nie al nie. Ons verheug ons in die swaarkry want ons weet: Swaarkry kweek volharding en volharding kweek egtheid van geloof en egtheid van geloof kweek hoop” (Romeine 5:3-4 – AFR83).

In ons tye van swaarkry lê daar soveel waardevolle lewenslesse opgesluit. Dit is juis in ons swaar tye wat ons die Heilige Gees opnuut en soveel meer intens ervaar. Ons weet dat die Heilige Gees ons juis in ons swakheid bystaan. In daardie oomblikke wat ons net by die voete van die Here neerval en uitroep, “Here, meer van U en minder van myself!” Dit is in daardie breukdeel van ʼn sekonde wat die Here, met mag en mening, op die voorgrond verskyn.

Wanneer ons ons lewe totaal en al oorgee aan die Here en sê, “Here, hier is ek!”, begin die wonderlikste metamorfose. Sien, ons hemelse Vader is oneindig passievol oor jou en oor jou hartsdrome en wanneer jy Hom eerste plaas en sy wil soek, sal Hy aan jou al die begeertes van jou hart gee. Daarom moet ons nie ondergekry word deur moeilike tye nie.

God laat juis soms hierdie tye van swaarkry toe om ons te help om Hom weer op ʼn nuwe en dieper wyse te leer ken. God laat nie net hierdie tye toe nie, maar Hy beloof ook om ons in hierdie minder lekker tye by te staan en van binne af te herskep. Daardeur vind ʼn pragtige en bonatuurlike transformasie plaas en word ʼn wurm omskep in ʼn skoenlapper en posisioneer die Here ons vir die volgende en hoër vlak van sukses.

Onthou altyd, getuienisse word gebore in tye wanneer jy jou afhanklikheid van God die Vader besef en Hom toegelaat om jou te versterk, jou te help en jou met sy eie hand te red. Die Here het geen gelyke nie, Hy spreek en daar is lewe!

Laat God toe om jou hart te verander, te vernuwe en jou van krag tot krag te vat!

Geskryf deur Alta Strauss
Facebook | Instagram | [email protected]

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.