Waarheen, Here?

Foto: pixabay.com

Foto: pixabay.com

1 Samuel 3:1: “Die Woord van die Here is in daardie tyd min gehoor.”

’n Joernaal, sê die woordeboek, is “’n dagboek vir aantekeninge van belangrike gebeurtenisse waarin die ondervindings van die reis neergeskryf word”. Van die begin af gaan God met mense op reis. ’n Reispad wat loop deur eeue-oue geskiedenis, deur woestyne, oor berge, deur verskillende lande, tot op die heuwel Golgota, deur ’n oop graf in ’n tuin, totdat die eindbestemming in die nuwe Jerusalem bereik word. Op sy reis roep God mense om Hom op hierdie weg te volg.

Op hierdie reispad het God deur sy Gees in mense gewerk om deur verhale, gedigte, liedere en geslagsregisters aantekeninge te maak van die hoogtes, dieptes en draaie van God se reisverhaal, maar ook van mense se geloof, twyfel, mislukkings, vrese, vreugde en hoop op die reispad. God het sy reisjoernaal as ’n geloofsjoernaal vir ons gegee, as ’n koersaanwyser, maar ook sodat ons in ons eie reisverhaal krag kan put en moed kan skep vir ons lewenspad.

In God se geloofsjoernaal lees ons dat God graag met ons mense op ons reispad wil kommunikeer. Op hierdie reispad wil God deur ’n persoonlike verhouding mense op die regte pad lei. Daarom het Jesus Hom aan ons kom openbaar as die goeie Herder, die Een wat voorloop, lei en ons beskerm. Jesus het homself ook as die Weg kom openbaar.

Jesus het aan ons sy Gees gegee as gids om ons op die weg te lei, as trooster wanneer ons langs die pad seerkry, as voorspraak / advokaat by die Vader wanneer ons die pad byster raak, en as onderwyser om ons in die waarheid van die Weg te onderrig.

Ons lees ook in die geloofsjoernaal dat God op sy reis ’n baie spesifieke en unieke plan vir elkeen van ons het. Daarom is elke mens se reis en God se reis met elkeen van ons uniek, want God het vir elke mens ’n spesifieke plan en ’n spesifieke roeping waarmee ons God in hierdie tyd, in hierdie land, in hierdie wêreld moet vereer.

Henno Cronje vertel die staaltjie van ’n reisiger in Switserland wat op ’n keer verdwaal het. Hy was op pad na Kandersteg, ’n klein idilliese dorpie in die Bernese hoogland. Gelukkig het hy ’n klein seuntjie langs die pad sien staan en vra hom toe waar die pad na Kandersteg is. Na die seuntjie ’n bietjie gedink het, sê hy: “Ek weet nie waar Kandersteg is nie, meneer, maar ek weet daar moet ’n pad daarheen wees.”

Dit is ’n probleem waarmee baie Christene vandag sukkel:

  • Ek weet God het ’n unieke roeping en plan vir my lewe,
  • ek weet daar moet ’n pad wees,
  • maar ek weet nie waar nie en daarom ook nie waarheen nie.

Wanneer dit gebeur, kom ons agter ons is besig om te verdwaal.

Ons word moedeloos, ons voel nutteloos, ons word teleurgesteld en ons soek na nuwe sin en betekenis in die lewe, in ons verhoudinge, in ons werk en in ons geestelike lewe.

Dit is dan wanneer die vraag, “Waarheen, Here?”, akuut word.

Om hierop ’n antwoord te vind is nie so maklik nie. 1 Samuel 3 begin met: “Die Woord van die Here is in daardie tyd min gehoor.” Hoekom was daar so min kommunikasie tussen God en sy mense? Was die Here weg? Het die Here moeg geword om met Israel te praat? Het Hy Hom so bietjie van sy mense onttrek? Nee, want in vers 4 staan daar “die lamp van God het nog helder gebrand”. Te midde van Israel se militêre, ekonomiese, geestelike veiligheids- en identiteitskrisis wat soos miswolke saampak om skadu’s op die reispad te gooi en die uitsig te versper, het God se lamp nog helder gebrand. Die lamp was immers die simbool van die Gees van God en van die lewe, vreugde en lig in ’n lewe saam met God. God het nie padgegee nie. God het Israel nie gelos nie. Hy is nie weg nie. Een nag kom roep die Here vir Samuel …

Toe Samuel die roepstem van God hoor, het Samuel nie geweet wie is dit wat na hom roep nie, want “Samuel het die Here nog nie die geken nie” (vers 7).

  • Kan dit wees dat jy soos Samuel ’n Elkana en Hanna as godvresende ouers het,
  • dat jy in die huis van God bly,
  • dat die lamp se lig oor jou slaapplek skyn,
  • maar dat jy nie weet dat dit die Here is wat met jou wil praat nie?

In vers 3 staan Samuel “het ook nog gelê in die tempel waar die ark van God was.” Samuel was naby die verbondsark, die simbool van God se heiligheid en teenwoordigheid, maar toe God roep, sê Samuel dadelik: “Ek kom!” En hy hardloop na Eli toe.

Die jong Samuel is so gretig om te dien, maar somtyds is dit meer belangrik wat mense wil , as wat God vir ons wil .

Jesus sê nie verniet in Markus 4:23 nie: “As iemand ore het en kan hoor, moet hy luister.” Ons hoor maklik, maar sukkel om te luister. Ons sukkel om werklik te luister na God. Wanneer laas het jy regtig stilgebly, stilgesit en nie net God gehoor nie, maar geluister na God?

As ons die Here op sy weg wil volg, as ons mekaar op die reispad wil dien, as ek wil hê die Here moet my in my eie nag ontmoet, as ons dors is vir die woorde van God, as ons wil hê die Here moet die wonde van hierdie wye en droewe land genees … dan sal ons moet begin om anders te luister. Ons sal ons vooroordele, ons voorkeure en afkeure, ja ook onsself, op die agtergrond moet skuif en weer leer om God se stem te herken.

Ons sal saam met Jorg Zink moet begin bid:

Hierdie ek van my, o God skuif tussen U en my in

Neem weg, o God, neem in U genade

hierdie ek tussen ons weg.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Jan ·

Dankie Danie. Dit voel vir my of hierdie stuk spesiaal vir my geskryf is. Ek weet God het ‘n doel met my, maar kon nog nooit ‘n idee vorm van wat nie. Hierdie skrywe bring dit weeronder my aandag dat ek met oop ore en oë dringend daarna moet soek.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.