Waarna is jy op soek?

Foto: Pixabay

Deur Gerhard Jacobs van Every Nation Church

Het jy al ooit jou beursie of jou selfoon verloor? Wanneer jy iets kosbaars verloor, is dit asof daar ’n leemte in jou hart onstaan wat nie weggaan nie totdat jy dít waarna jy op soek is, gevind het. En die verligting wanneer jy die kosbare iets weer vind…

Die mens is gemaak met ’n leemte soos hierdie in sy hart. Mense is altyd op soek na iets: liefde, geld, aanvaarding, status, sekuriteit, identiteit of selfs net vrede. Mense spandeer baie geld en tyd op soek na hierdie dinge, maar dit is nooit genoeg nie. As die dinge wat ons doen om hierdie leemte te vul, nooit regtig bevredig nie, waarna is ons regtig op soek? En waar kan ons dit kry? Self al voel dit soms bevredigend, hoekom is dit so tydelik?

Jesus vertel ’n interessante storie in Matt 13:44: “Met die koninkryk van die hemel gaan dit soos met ‘n skat wat in ‘n saailand onder die grond lê. Wanneer iemand dit kry, maak hy dit weer toe; en omdat hy baie in sy skik is, gaan verkoop hy alles wat hy het, en hy koop daardie land.”

Hierdie man het gekry waarna hy op soek was en hy het besluit om alles te verkoop wat hy besit het in ruil vir hierdie skat. Dit klink amper onverantwoordelik, dit klink ’n bietjie radikaal. Maar hierdie skat word beskryf as die koninkryk van God. Nou waar daar ’n koninkryk is, is daar ’n koning. Die Koning in hierdie geval is God en Sy koninkryk is ’n ewige een. God se koninkryk is waar Hy regeer.

In Mattheus 6:33 staan: “Nee, beywer julle allereers vir die koninkryk van God en vir die wil van God, dan sal Hy julle ook al hierdie dinge gee.”

Dit beteken, aanvaar God se heerskappy oor jou lewe. Onderwerp jouself aan God en maak Hom die Koning van jou lewe. En dan is daar ’n belofte, dan sal jy alles ontvang waarna jy op soek was in die eerste plek. Wanneer ons bely voor God en Hom die Koning van ons lewens maak, sal ons diepste hartsbegeertes bevredig word. God wil die leemte in jou hart kom vul, niks anders is in staat om dit te doen nie. Dit beteken dat jy in al jou besluite eers moet dink aan wat Hom sal eer en aan Hom glorie bring. Dit beteken dat jy nie meer lewe asof jy jouself besit nie, maar asof God jou Koning is.

Here, dankie dat U die een is wat my diepste begeertes raaksien en wil kom vervul. Ek weet dat U die enigste een is wat die leemte in my hart kan vul. Ek aanvaar vandag U heerskappy in my lewe, ek aanvaar U as Koning van my lewe. Help my om keuses te maak wat U eer en om eerste U koninkryk in my lewe te soek. Mag U koninkryk kom op aarde soos in die hemel en wys my vandag hoe ek kan deelneem hieraan. Dankie dat U ’n goeie Koning is wat sorg vir elke benodigheid. Amen.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

SNEL ·

Matt 13:44 As mens die gedeelte lees en mooi dink, moet die gedeelte van Grieks of Hebreeus se kommas of goed verkeerd geplaas geword het en miskien woorde ook. Dit maak nie sin dat die koningkryk weggesteek word nie. Dis daar vir almal, verniet, oop een bloot, vat dit net, maar as mens die gedeelte lees, maak dit meer sin. Ons mense op aarde is die skat, Jesus is die Man wat alles prys gee om ons vry te koop. Dieselfde met die gedeelte oor die kosbare pêrel (vers 45). Al was daar net een van ons, sou Jesus nog steeds gesterf het om daardie een persoon te red. Van vers 47 dui die vangs op die mensdom, ongelowiges en gelowiges wat geskei word. So maak dit dan vir my meer sin dat die saailand die mensdom is en die kosbare pêrel ook mense. Vers 44 – 46 dui dus vir my hoe duur daar vir ons Verlossing betaal is en vers 47-50 wat sal gebeur as ons nie daardie duur prys wat vir ons betaal is gryp en Jesus volg nie.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.