Gedagte vir die dag: Waaroor gaan die lewe nou eintlik?

helpende_hand.jpg

Foto: holdinghopeservices.com

Behalwe dit alles was daar nog die daaglikse bekommernisse, die besorgdheid oor al die gemeentes. As iemand swak is, voel ek asof ek self ook swak is; as iemand in sonde val, voel ek asof ek ook deur vuur gaan. (2 Korintiërs 11:28-29)

Kyk jy eerder ander pad wanneer mense na aan jou ’n geestelike worsteling beleef; dink jy hulle moet dit maar eerder met God en hulself uitmaak, wat sal jou insette help? Dalk is jy daarvan bewus dat jou vriendin voel haar gebede slaan teen die dak vas of miskien gaan jou sus deur ’n egskeiding en skuldgevoelens teister haar. Paulus sê ons moet mekaar se geestelike laste help dra!

Paulus het baie fisieke teenslae tydens sy sendingreise gehad – hy het honger gely, koud gekry en was dikwels in lewensgevaar, tog het sy grootste bekommernis Christene se geestelike welstand gebly. Hy was so meelewend en vol deernis vir mense dat hy saam met die swakkes swak gevoel het om juis die swakkeres in die geloof by te staan. As iemand in sonde verval het, het dit vir Paulus gevoel hy deel in die pyn en oordeelsgevolge daarvan.

Soos Paulus moet ons opreg vir mekaar omgee en na mekaar uitreik, mekaar se fisieke en geestelike laste help dra en nie wegkyk wanneer iemand deur ’n moeilike tyd gaan nie. Dit neem net ’n paar minute om empatie aan iemand te betoon wat dit nodig het. ’n Bemoedigende SMS of ondersteunende oproep of nie-veroordelende gesindheid kan ’n mens se lewe vir altyd verander. Ons is tog so besig en het nie tyd vir mekaar nie – ons uitgangspunt is heel dikwels: moenie my met jou probleme pla nie, ek het genoeg van my eie. Jesus sê Christenskap gaan in wese daaroor dat ons God en mekaar moet liefhê. Dit is hoe eenvoudig Christenskap is. Ons moet bedagsaam, goedhartig, sagmoedig en liefdevol teenoor mekaar wees. Ons moet vir mekaar tyd maak, anders gaan ons later nie meer tyd hê vir mekaar nie.

In hierdie lewe gaan dit oor meer as net onsself en om met ons eie lewe behep te wees, ’n Goddelike visie behels altyd om ander mense op te hef. Ek wil jou uitdaag om, as jy dit nie reeds doen nie, ’n positiewe verskil in ander mense se lewe te maak. Die allerbeste is, as jy iemand anders help word jy self gehelp.

Bron:
Stilword vir vroue deur Liesel Krause-Wiid
Uitgewer: Carpe Diem Media

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.