Gedagte vir die dag: Waaroor gaan Kersfees nou eintlik?

Woud_groen_water_stroom_boekevat_pixabay.jpg

Foto: pixabay.com

Daardie dag sal daar ’n fontein oopgemaak word om die koningshuis van Dawid en die inwoners van Jerusalem te reinig van hulle sonde en hulle vuilheid. (Sagaria 13:1)

… die water wat Ek hom sal gee, sal in hom ’n fontein wees met water wat opborrel en vir hom die ewige lewe gee. (Johannes 4:14)

Dit is baie hartseer dat die Kersseisoen deesdae vir sommige mense net partytjie en drank spel. Dit is immers ’n dag waarop ons moet terugdink aan die verlossingswerk wat Jesus vir ons gedoen het. In Jesus reik God na die mens uit, bou Hy ’n brug tussen ons en Hom en herstel die gebroke verhouding.

Natuurlik is dit ook ’n tyd wanneer families lekker saamkuier en wanneer ons ’n feestelike ingesteldheid het en geskenke vir mekaar gee wat herinner aan die geskenk wat God vir ons gegee het, sy Seun. Ons het immers rede om fees te vier, God het Hom oor ons ontferm. Ons moet mekaar gedurig herinner aan die dieper betekenis van Kersfees. As Jesus nie aarde toe gekom en in ons plek gesterf het nie, sou die hunkering na God in ons binneste nooit gestil wees en ons nie die ewige lewe gehad het nie. Almal het ’n soeke in hulle binneste na God en net die Here kan dit vir ewig bevredig. Deur geloof vind ons rus in die ewige lewe wat Jesus Christus gebring het. As jy geestelik dors is, drink van die fontein van God se genade en word weer versterk.

Wilda English het gesê: “Mag God vir jou die lig van Kersfees gee wat geloof is, die warmte van Kersfees wat liefde is, die luister van Kersfees wat reinheid is, die geregtigheid van Kersfees wat regverdigheid is, die geloof van Kersfees wat waarheid is en die volheid van Kersfees wat Christus is.”

Ek bid vir jou en jou geliefdes ’n ware Christusfees toe hierdie jaar, ek bid dat julle God se teenwoordigheid tasbaar sal beleef en sal weet Hy het gekom om ook vir julle die Lewe te gee. Ek bid dat julle mekaar deur God se liefdesbril sal aanskou en op die mooi in elkeen sal fokus.

Bron:
Stilword vir vroue deur Liesel Krause-Wiid
Uitgewer: Carpe Diem Media

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

TheGrinch ·

Kersfees het sy ontstaan in Saturnalia, wat elkgeval n partytjie en drankspel was. Dus as jy jou wangedra op Kersdag, sit jy maar net die tradisie voort van hoe dit eintlik gevier was.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.