Gedagte vir die dag: Wanhoop se ellende

See-strand-rus-boekevat.jpg

Foto: flowercampings.com

My God, my God, waarom het U my verlaat en bly U ver as ek om hulp roep? (Ps 22:2)

Die Here jou God is by jou, Hy, die krygsman wat red. Hy is vol vreugde oor jou, Hy is stil-tevrede in sy liefde. Hy jubel en juig oor jou. (Sef 3:17)

Om hoop te verloor is een van die heel ergste dinge wat ’n mens kan oorkom. Om die oggend wakker te word met die gevoel dat die dag vir jou niks inhou nie, dat jy in ’n doodloopstraat beland het, dat jy geen erg meer aan die lewe het nie – dit is ellende op sy ergste. ’n Mens raak wanhopig wanneer jou lewe nie na verwagting verloop nie. Jou drome lê aan skerwe en daar is nie meer geleentheid om die skerwe weer bymekaar te kry nie. ’n Verhouding het op die rotse geloop. Jy het al jou geld verloor. Jou gesondheid is daarmee heen. Jy het geen hoop vir jou land se toekoms nie. Alles is net vreeslik donker, stikdonker.

As ek deur die psalms blaai, hoor ek telkens die refrein van wanhoop. Die ergste vorm van wanhoop is wanneer ’n mens die gevoel kry dat God jou verlaat het. ’n Mens kan alles verloor en tog weer die mas opkom deur God se genade. Maar as jy God verloor het, het jy niks meer oor nie.

Die wonderlike nuus is dat God jou nooit sal verlaat nie. Daardie gevoel wat jy kry, is ’n illusie. Dis niks anders as ’n slegte gevoel nie. Die realiteit is dat God by jou is om jou weer op te help en moed te gee. Net Jesus was van God verlate aan die kruis. En Hy moes dit verduur juis sodat elkeen wat in Hom glo nooit van God verlate sal wees nie.

Bely saam met die digter van Psalm 39:8: “Is daar nog hoop vir my, Here? U is my enigste hoop!”

Bron:
Nogtans sal ek hoop deur Johan Smit
Uitgewer: Christelike Uitgewersmaatskappy

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Leon ·

Is daar hoop vir Suid Afrikaners? “as My volk hul vetootmoedig en hul sonder bely…. “

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.