Gedagte vir die dag: Wanneer dit donker word om my

See-strand-gras-Nathan-Steyn.jpg

Foto: Nathan Steyn

U, Here, laat my lamp helder skyn; my God gee lig as dit donker is om my. Met u hulp loop ek ’n oormag storm, met my God by my is geen stadsmuur vir my te hoog nie. God omgord my met krag; Hy maak my pad voorspoedig. Hy maak my voete soos dié van ’n ribbok; op hoë plekke laat Hy my stewig staan. (Ps 18:29-30, 33-34)

“As dit donker is om my.” Wie van ons het nog nie die ervaring van daardie donker-oomblikke gehad nie? Ons word onverhoeds deur moeilike omstandighede in ’n hoek gedryf. Mense laat ons in die steek. Die kompetisie is besig om ons skielik te oorweldig. Die mediese verslag is ongunstig. Kinders stel jou teleur. Dinge kan op duisend en een maniere skeefloop. En dan skuif die wolke voor die son. Dit word donker …

Moenie toelaat dat die donker jou verswelg nie. Raak net vir ’n paar oomblikke rustig en ervaar God se greep op jou lewe. Hy hou jou vas. En Hy is jou lig. Elke belofte wat die Here in sy Woord vir jou gee, is ’n ligstraal wat die donkerte verdryf. Neem Hom op sy woord en herinner Hom aan sy beloftes. En luister na sy stem. Hy sal vir jou die regte koers aandui.

God omgord jou met krag. Wanneer jy kragteloos voel omdat moeilike omstandighede jou kragte getap het, gee die Here weer nuwe veerkrag aan jou lewe. Jy het die ondraaglike laste afgelê, dit aan die Here oorgelaat, en jy het weer vastigheid gevind. Soos die ribbok kan jy op hoë plekke stewig staan.

Moenie paniekerig raak wanneer omstandighede jou laat voel asof jou lewe buite beheer geraak het nie. Steek lig op by die Here. Ervaar sy krag in jou lewe en staan vas op die hoë plekke!

Die Here self is jou lig as dit donker word.

Bron:
Nogtans sal ek hoop deur Johan Smit
Uitgewer: Christelike Uitgewersmaatskappy

 

 

 

 

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

shaun ·

Dankie my meester dat U my nooit teleurstel ni
Dankie dat U da is vi my in tye van nood
Dankie dat U my laste dra
Dankie my VADER
Amen!!!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.