Gedagte vir die dag: Wanneer God my sonde in die diepsee gooi

Storm_see_rotse_golwe_boekevat_ChristoBrits.jpg

Foto: Christo Brits

Wie is ’n God soos U? U vergewe sonde, U straf nie die sonde van dié wat uit u volk oorgebly het nie. U bly nie vir altyd kwaad nie, U betoon liefde. Hy sal ons weer genade betoon, Hy sal ons sonde tot niet maak, U sal al hulle sondes in die diepsee gooi. (Miga 7:18-19)

“My skuld is te groot. Ek kan dit nie afbetaal nie. Jy ken my nie. Jy weet nie van die geraamtes in my kas nie. Ek is nou maar eenmaal ’n slegte sondaar. Aan my is daar geen salf te smeer nie.” Hoe dikwels hoor ’n mens nie hierdie swaarmoedige skulderkenning nie. En soms verkeer jy in die versoeking om met die skuldbeswaarde saam te stem. Menslik gesproke lyk hy maar regtig oor die muur.

Wanneer jy só oor jouself of iemand anders dink, trek jy ’n streep deur die wonder van God se genade. Dan maak jy van God niks anders nie as ’n menslike regter wat mense streng volgens verdienste oordeel. En as dit waar sou wees van God, sal nie een van ons skotvry daarvan afkom nie. Want selfs ons beste werke is vir God soos ’n wegwerplike kleed, sê Jesaja.

God kyk nie soos ’n menslike regter na ons nie. Hy kyk soos ’n liefdevolle vader na ons. Ja, Hy is kwaad oor sonde. Maar Hy bly nie kwaad nie. Hy vergewe altyd weer. Hy straf nie, maar betoon liefde en genade. Moenie voortdurend jou oorvol klagstaat voor God se kop gooi nie. Beroep jou eerder op sy onuitspreeklike genade, die genade wat in volkome vergifnis tot uitdrukking kom.

God wis die sonderekening uit. En luister hoe treffend verwoord Miga dit: Hy gooi dit in die diepsee! Dit is totaal en al uitgewis.

God se vergifnis is volkome; nou kan jy gerus jouself ook vergewe.

Bron:
Nogtans sal ek hoop deur Johan Smit
Uitgewer: Christelike Uitgewersmaatskappy

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Anoniem ·

Dankie God vir die kosbare bloed van Jesus. Ek loof en prys U tot in ewigheid. Amen.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.