Gedagte vir die dag: Wanneer Hy my toets

vuur_goud_suiwer_stiltetyd

Foto: Pixabay

Hy weet waarheen ek gaan! Wanneer Hy my toets, sal ek na vore tree suiwer soos goud uit ’n vuur. (Job 23:10)

Wanneer die donker dae God vir ons versluier, is dit vertroostend om daaraan te dink dat God alles van ons situasie weet. Hy sien hoe ons sukkel; Hy vang ons trane in ’n bottel op, en die heel beste is dat Hy weet wat volgende gaan gebeur. Sy uitsig word nie belemmer deur ons omstandighede nie, en sy uitsig op die toekoms is kristalhelder. Wat ’n vertroosting om vir onsself te kan sê: “God weet waarheen ek op pad is.”

Job was oortuig dat as God hom sou toets, hy vrygespreek sou word. Dit lyk aanvanklik vir ons baie arrogant van Job. Wie sou so vrymoedig wees om God uit te daag om hulle te toets en boonop met vertroue te sê dat hulle onskuldig verklaar sal word?

Maar dié wat aan Jesus behoort, kan hierdie belofte vir hulle toe-eien. Wanneer ons by God se suiwerende vuur instap, brand Hy al die onsuiwerhede weg en niks anders buiten die suiwer metaal van geloof bly agter nie. God laat ons skitter met sy helder glans. Ons word onskuldig verklaar, nie op grond van wat ons gedoen het nie, maar op grond van wat Jesus vir ons gedoen het. Herinner jouself vandag, te midde van al die hoogtepunte en laagtepunte van die lewe, van al die hoopvolle verwagtings en die skreiende werklikhede, dat God weet waarheen jy op pad is en dat Hy jou sal suiwer sodat jy volwasse en volkome in Hom kan wees.

Ek het julle gelouter, maar nie soos silwer nie. Ek het julle gelouter in die smeltkroes van lyding. – Jesaja 48:10

Bron: In die skadu van die Allerhoogste deur Nancy Taylor & Chris Johnsen
Uitgewer: Christelike Uitgewersmaatskappy/CUM

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.