Gedagte vir die dag: Wanneer iemand jou “glans” steel

anker-stiltetyd-fietzfotos-pixabay.jpg

Foto: fietzfotos/pixabay

Pak alles gemotiveerd aan. Werk soos vir die Here en nie soos vir mense nie. (Kolossense 3:23)

Hoekom is dit so dat mense so selfingenome is dat hulle nie iemand anders gun om erkenning te ontvang vir ’n taak wat goed afgehandel is nie?

Dikwels strek dit veel verder as om bloot oor die goed voltooide werk te swyg: Die erkenning word subtiel na húlle kant geswaai, of die voltooide werk – of selfs die persoon daarvoor verantwoordelik – word selfs afgekraak. Dit gebeur veral wanneer ’n bestuurder die “glans” na sy of haar kant verskuif. Dit is ook nie vergesog nie dat toekomstige opdragte eerder aan ander toegedeel word wat dit dalk nie so goed sal verrig nie.

Die Here verwag waarskynlik van ’n mens om só op te tree in sulke gevalle:

  • Om erkenning te gee vir werk wat goed afgehandel is – sonder professionele jaloesie of verskuilde motiewe.
  • Om dit te aanvaar – ’n baie moeilike opdrag – wanneer ander jou “glans” steel nadat jy iets goed afgehandel het. Moenie daaroor tob en ontsteld daaroor wakker lê nie. Volg die eenvoudige raad om dit só goed te verrig dat die Here daarmee tevrede sal wees.

Werk gevolglik soos vir God en nie vir mense nie. En bid dat die ontsteltenis in jou oor die onregverdige behandeling gou sal verbygaan.

Bron: God is hier! deur Johann van Zyl
Uitgewer: Christelike Uitgewersmaatskappy/CUM

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.