Gedagte vir die dag: Wanneer jy God nie kan nader nie

Stiltetyd-27.jpg

Foto verskaf aan Maroela Media

Wees my genadig, o God, in u troue liefde, wis my oortredings uit in u groot barmhartigheid! Teen U alleen het ek gesondig, ek het gedoen wat verkeerd is in u oë. U uitspraak is dus reg en u oordeel regverdig. (Psalm 51:3, 6)

Het jy agtergekom dat ons kerke al hoe minder oor sondebesef praat? Dit is asof ons bang is ons affronteer die gemeente. Natuurlik sê ek nie ons moet heeldag vir mense loop en vertel hoe sondig hulle is en hulle gedurig laat skuldig voel nie. Dit is immers waarom Jesus gesterf het – om ons skuld te betaal. Daarom moet ons nie toelaat dat skuldgevoelens oor foute wat ons in die verlede gemaak het ons langer teister nie. As ek egter wetend teen God se wil gekies het en dit nie opreg bely en berou toon nie, is dit asof daar ’n muur tussen my en God vorm. Dit beïnvloed my verhouding met Hom en veral my gebedslewe; dit is asof ek nie meer met soveel vrymoedigheid na Hom toe kan gaan nie. Die oomblik as ek met God hieroor praat, voel dit vir my asof my verhouding met Hom intens verdiep.

Elke nou en dan oorweldig die wete my hoe ontsettend nodig ek God het. Dan kom ek net weer tot die besef: Al probeer ek baie hard om ’n kind van God te wees, ek is steeds ’n sondaar. Ek het Hom nodig om my staande te hou. Om ons verhouding met God groeiend en gesond te hou moet ons ware berou en egte sondebesef wys. Wanneer ons ’n innige verlange na vergifnis en ’n opregte begeerte na vernuwing het, gedy ons verhouding met God.

In hierdie boetepsalm toon Dawid opreg berou oor sy owerspel met Batseba en die moord op haar man in ’n poging om die sonde weg te steek. Dawid het geweet baie mense is deur sy optrede geraak en seergemaak. Omdat hy opreg berou gehad het, het God hom genadiglik vergewe. Geen sonde is te groot om vergewe te word nie. Voel jy dalk asof jy nooit weer naby God sal kan kom nie omdat jy iets verskrikliks gedoen het? God kan en sal jou vir enige sonde vergewe. Sy vergifnis beteken egter nie dat Hy die natuurlike gevolge van ons sondes ongedaan maak nie. Ons sien Dawid se lewe en die lewe van sy familie was nooit weer na sy sonde dieselfde nie (vgl. 2 Sam 12:1-23).

Bron:
Stilword vir vroue deur Liesel Krause-Wiid
Uitgewer: Carpe Diem Media

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.