Gedagte vir die dag: Wanneer jy jou werk verloor

Dooie-vlei-in-al-sy-glorie.jpg

Foto: Marianne Styan

Ek het in U bly glo, selfs toe ek gedink het dit is klaar met my en toe ek in my vertwyfeling besef het: ek kan op geen mens staatmaak nie. Hoe sal ek die Here vergoed vir al sy weldade aan my? (Ps 116:10-12)

Om jou werk te verloor is een van die mees traumatiese ervarings wat oor ’n mens se pad kan kom. En hier moet ek tog ’n uitsondering maak ten opsigte van die manlike geslag. Dit is gewoonlik die man wat sy werk verloor en dit is tradisioneel nog steeds die man wat meen dat hy verantwoordelikheid vir sy gesin se welsyn moet aanvaar. Om dan skielik op ’n dag na die kantoor ingeroep te word om te hoor dat daar ongelukkig noodsaaklike afleggings moet plaasvind en dat jy ongelukkig een van hulle is, is ’n uitklophou.

Jou reaksie? Verbystering. Ongeloof. Woede. Doodse stilte of ’n stortvloed woorde waaroor jy later spyt is. Vlug. Wat gaan jy vir die mense by die huis sê? Dit gaan oor veel meer as geld. Jy dink aanvanklik nie eers daaraan nie. Dit gaan oor jou selfbeeld. Jy het misluk. Jy is nie meer goed genoeg nie. Jy is sommer net ’n nikswerd.

Jy moet nou eers ’n entjie pad met jouself loop. Luister: jy is nie nikswerd omdat jy jou werk verloor het nie. In God se oë is jy kosbaar. Jou gesin sal jou nie verwerp omdat jy jou werk verloor het nie. Ja, jy het trots en selfrespek ingeboet. Maar jy word nou uitgedaag om jou integriteit te bewys.

Jy het miskien ontdek dat jy nie op mense, veral dié van wie jy dit verwag het, kan staatmaak nie. Vertrou nou die Here vir ’n uitweg. En soek jou raad by ander gelowiges. Sê saam met die psalmdigter: “Ek het in U bly glo.”

Here, ek sal in U bly glo!

Bron:
Nogtans sal ek hoop deur Johan Smit
Uitgewer: Christelike Uitgewersmaatskappy

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

5 Kommentare

Stephan ·

As dit maar so “maklik” & “eenvoudig” was. Net iemand wat self nog nooit die vernietigende gevolge van so iets ervaar het nie sal beweer dat dit n toets vir die slagoffer se integriteit is; verwerp dit net die minagting wat dit verdien want so word die ou wat plat le in die tande geskop!

Natuurlik is mens se geloof dan die enigste kewensboei wat hoop bied, en mens sal hoop dat minstens die gesin sal saam staan. Helaas lg is juis een van die eerste, trouens IS die eerste, wat wankel. Die spaargeld raak baie gou op en dan word beleggings, waardevolle giedjies en uiteindelik enige iets wat nie noodsaaklik is nie verkwansel om te probeer oorleef. Later word die huis verkoop en dan is dit net een haastige glybaan na nêrens. Glo my maar, dit is n uiters eensame & pynigende pad wat gestap word terwyl familie hul rue draai, vriende verdwyn en selfs die Kerk afwesig raak.

Wat benodig word om die geloof te behou en energie te vind is DADE. Selfs die kleinste daad maak n verskil, maar om die gly te stuit, te oorleef en uiteindelik te herstel is groter daadwerklike dade vanaf mense nodig. Dit is dus eintlik n toets van ander mense se menslikheid en integriteit!

Armblanke ·

Stephan, ek ken jou van nêrens afnie, maar jy het presies geskryf waardeur ons die afgelope 7 jaar gaan.
Ons moes afskaal, my man se voertuig verkoop om net die pot aan die kook te hou. Al wat ons nou nog het is ons huis, en met die stygende kostes weet ek nie meer vir hoelank ek die paaiement sal kan bybring nie.
My man kon nognooit ‘n vaste aanstelling kry nie. Dit breek hom, hy het my al talle male vertel ek moet liewers van hom skei, want hy kannie vir ons sorg nie, hy hou my terug, ek en ons kinders sal beter afwees sonder hom. Ek het al baie by die huis gekom en gevind dat die garage deur toe is, dat daar nie ‘n teken van lewe isnie, die vrees pak my dat ek my man se liggaam in die garage sal vind.
Ons glo en vertrou steeds op God – maar dit isnie maklik nie. Gister het ons kerk vir ons kruideniersware gegee. Ons hetnie gevra nie, dit is net vir ons gegee. Geskok, skaam en verlee het ons 15jarige dogter ons gevra hoe kon ons dit van die kerk neem? Ons is tognie arm blankes nie! Hoe verduidelik jy dit aan jou kind, dat ja my kind, ons kom dalknie voor as arm blankes nie, maar daar isnie kos in die huis nie, daar isnie geld om vir jou wintersklere te koop nie, jou onderklere wat in ‘n haaglike toestand is, moet maar nog vir ‘n rukkie gedra word, daar is dinge wat meer belangriker is as ‘n warm trui, of ‘n nuwe broekie!

Ockie ·

Ek ken hierdie pad. Loop al lank op hom. Jy kan op geen mens of organisasie vertrou nie. Hulle is almal te swak en kan nie regtig help nie………Maar die arm van die Here is nie te kort nie. ….vertrou op Hom alleen. ……dan praat ons weer. ….Amen

Gina ·

Armblanke
Weet jy- jul is nie die enigste wit gesin wat deur hierdie hel gaan nie. Ons sien dit elke dag meer en meer word terwyl, die wat in die hoe poste sit die land lam lê. Ek het ook daai padjie geloop saam met n seun van 2j. geen onderhoud geen wet wat help nie en jy is net op jou eie. Ek wil jul net sê my kind is vandag 10j en deur gebed het GOD ons gedra…….Ek wil jul iets vertel: Ek loop in Ackermans in op n winter more, dis bitter koud en my kind het nie skoene aan sy voete nie. Ek sien daar is n uit verkoping op tekkies en vat maar die paartjie met die rooi stiekertjie en gaan na die kasiere toe om te vra wat is die prys. Dis 2012- en die dame sê die Tekkies kos R10. net R10. en ek sit met n R20. in my beursie. Mense jul wil nie weet hoe het ek gehuil nie, maar die ergste was dat GOD my die spesifieke dag gewys het dat HY altyd daar is, al dink jy, jy het niks, HY is elke oomblik by ons. Ek het deur gebed saam my seun gebid vir n uitkoms en ons het dit gekry, en nie net die uitkoms nie. God het my weer n man en n pappa vir my kind gegee, en deur gebed en GOD se genade is ek vandag in my hart n beter mens en ek sal altyd mense raaksien wat hulp nodig het. Ek kan net sê mense GOD sal voorsien maar jy moet bid, vertrou en GLO HY sal n uitkoms bring. Sterkte mense!!

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.