Gedagte vir die dag: Wanneer jy nie in sy skoene kan staan nie

woestyn_droe_veld_stiltetyd_pixabay.jpg

Foto: pixabay.com

Die Here is naby die gebrokenes, Hy help die moedeloses. (Psalm 34:19)

Percy se lewenslustige tienerseun is oorlede. Sy kind. Watter seer kan vir ’n pa (en ma) ooit erger wees?

Ek vang myself deurentyd dat ek mooi antwoorde probeer uitdink met die hoop dat dit Percy kan vertroos. Maar selfs al sou daar regte antwoorde wees, sal dit nie die seer wegneem nie. “Raad” en geyk te clichés is vir die gebroke hart soos rook vir die oë. Jy kan nie eens in sy skoene probeer staan nie, want hoe kan jy saam voel as jy nog nie daar was nie? En al was jy, sy hartseer is steeds syne, nie joune nie.

’n Bodemlose gat in iemand se hart kan nie opgevul word met intellektuele beredenering nie. Daar kort ’n Rotsbodem wat net God kan wees en substansiële Vulsel wat net God se nabyheid kan bied. God is ’n nabye God. Hy is so naby dat Hy dieper as binne is. En God is realiteit. Hy lewe. Hy ís lewe.

Stilte troos soms meer akkuraat as woorde. Maar as jy moet praat, praat dan eerder namens hom met God wanneer hy nie meer bid in hom oorhet nie. Daar is egter wel afwagting, ewige hoop en troos! Die teoloog David Pawson stel dit so: “Ons het drie kinders, ’n dogter in die hemel en nog twee kinders op aarde. Ons het haar nie verloor nie, maar hartseer en onvermydelik soos dit is, het ons kontak met haar verloor. Sy sal nooit weer saam met ons hier bly nie, maar ons sien uit om weer saam met haar te bly.”

Jou gebroke vriend se troos is God se na byheid. Daarom moet jy God verteenwoordig met jou eie na bywees.

Vader, net U kan naby genoeg wees en Percy werklik help. Sal U my insig in sy gebrokenheid en moedeloosheid gee sodat hy miskien deur my ook fisies van u nabyheid en hulp bewus kan word? Amen

Bron:
Manne van die Woord deur Jannie Pelser
Uitgewer: Christelike Uitgewersmaatskappy

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Suzette ·

Baie dankie vir julle wonderlike boodskap elke dag, dit is vir my n inspirasie om elke dag weer die dag aan te pak. My seun gaan deur n moeilike tyd in sy lewe, hy kan hom net nie self aanvaar nie en blameer God en my vir alles in sy lewe. Ek bid elke dag dat God net sal ingryp en mag ek vra dat julle asb hom Ricardo in julle gebede sal hou.

Weereens baie dankie vir julle wonderlike boodskappe wat julle uitdra, ek weet dit help baie mense.

Mag God met Percy en sy familie gaan.

Geseende dag en mag Jesus se liefde oor julle almal gaan.

Willemien ·

Baie sterkte aan jou Suzette, ek bid vir jou en Ricardo. Ek glo dat hy sy lewe gaan verander en gaan getuig van God se goedheid en genade!

Lena Jonk ·

Jannie dit is so groot waarheid wat jy hier geplaas het. Ja niemand kan ooit die leemte vul van n ouer wie n kind aan die dood afgestaan het nie, die persoon wie nog nie daardie pad geloop het nie weet nie wat diep seer regtig is nie. Ouers, broers en susters is erg maar n kind baie diep, baie seer. Dankie vir n Almagtige God wie ons met onbeskryflike groot Genade bystaan.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.