Gedagte vir die dag:  Wanneer kinders kenners word …

bid_kniel_stiltetyd_pixabay.jpg

Foto: pixabay.com

Lees Jesaja 55:1-9

My gedagtes is nie julle gedagtes nie … (Jesaja 55:8)

Dit is ook maar goed so, nie waar nie? Dié dat God se denke en dade van ’n ander orde en aard as ons s’n is. Want dit weerhou ons van ’n oormoedige paradering met ons gewaande Godskennis, ’n breedsprakige uitstalling van alles wat ons kamma by Hom gehoor het. Wanneer Hy wát vir ons sou gesê het.

Of hoe?

Dit is tog vanselfsprekend dat ons ons grootoog oor sy roekelose vrygewigheid sal verwonder. Oor die onbegryplikheid van sy wydoop hande (vgl. v. 1). Sy nabyheid aan mense soos ons wat na Hom roep, wat Hom soek (vgl. v. 6). Sy herhaalde vergifnis (vgl. v. 7). Dit alles is ’n ongekende houding, ’n verbluffende werkwyse, by enige god, in alle tye. En dit dwing ons, die ontvangers van hierdie “genade, onbeskryflik groot”, tot uitbundige dank en/of ’n eerbiedige swye wanneer ons met soveel goedheid gekonfronteer word.

Of hoe?

Nou: Hoe gebeur dit dan dat gelowiges so tuis geword het in God se teenwoordigheid dat hulle die geselskap begin oorneem het? Dat hulle, soos stout kinders, die aandag opeis wat God toekom? Dat hulle so volledig ingelig is oor God se saak, sy wil, sy doen en late? Dat hulle tot elke prys as Godkenners gesien en gehoor en bewonder wil word? Dat hulle so onafgebroke oor Hom praat dat hulle lankal opgehou het om mét Hom te praat? Dat hulle, kinders van die grote God, hulle aanmatig om die vernaamste verdedigers van sy saak te word, die beskermers van sy Naam?

Asof Hy nie is wat Hy is nie. En dit altyd sal wees nie, ten spyte van ons.

Ag, Here, help my dat ek my plek sal ken wanneer ek voor U kniel.

Bron: Uit die Beek 2019 deur Barend Vos
Uitgewer: Lux Verbi

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.

2 Kommentare

jongste oudste gewildste
Reynier Frederik

Vergewe my Here my voortvarendheid. Plaas ń wag voor my gedagtes en my mond en laat ek U Heilige Gees se stem hoor en daarop reageer. Alle eer kom U toe Almagtige God.. Amen.

FM

Here, U ken my gedagte voordat ek dit selfs in woorde sê. Weerhou my van hoogmoed en die rede dat medegelowiges struikel.
Mag wat ek dink en doen en sê tot U eer wees.
Amen