Lig is die simbool van waarheid, verligting en goedheid. Ons almal het ’n “lig” waarvolgens ons lewe. Ons bepaal ons lewensrigting daarmee. Ons rasionaliseer en argumenteer daarvolgens. Jesus waarsku dat ons moet oppas, want as die lig in ons lewe duisternis is, is ons in die moeilikheid – soms sonder dat ons dit weet! Ons moet vra: “Hoeveel van die lig in ons is duisternis?”
Ons het ’n openbaring van die lig nodig om te kan onderskei. Dis hoekom ’n verhouding met Jesus nie opsioneel is nie – dis uiters noodsaaklik.
Maak seker dat die lig wat jy dink jy het, nie dalk duisternis is nie. As jou hele liggaam met lig gevul is, sonder donker hoekies, sal jou hele lewe stralend wees asof ’n helder lig op jou skyn. (Lukas 11:35-36)
Julle is die lig wat die wêreld moet verlig. ’n Stad wat bo-op ’n berg lê, kan mos nie weggesteek word nie! ’n Mens steek ook nie ’n lamp op en maak dit onder ’n emmer toe nie. Inteendeel! Jy sit dit bo-op ’n lampstaander. Dan maak dit lig vir almal in die huis. (Matteus 5:14-15)