Gedagte vir die dag: Wanneer ons moedeloos is

Natures-Valley-Boekevat-Foto-Melanie-Schlenter.jpeg

Foto: Melanie Schlenter

Aan God, die Vader van ons Here Jesus Christus, kom al die lof toe! Hy is die Vader wat Hom ontferm en die God wat in elke omstandigheid moed gee. In elke moeilikheid bemoedig Hy ons. Daarom kan ons ook ander bemoedig wat in allerlei moeilikhede verkeer. Ons kan hulle bemoedig met dieselfde bemoediging waarmee God ons bemoedig. (2 Kor 1:3-4)

“Op moedverloor se vlakte” het by baie van ons al ’n huishoudelike sê-ding geword. Soms gebruik ons die uit drukking skertsend, maar dan is daar wel tye wat dit presies is hoe ons voel. Moedeloos. En daar is ’n magdom dinge wat ’n mens moedeloos kan maak. As jou sake net nie volgens plan wil verloop nie, as jou kinders jou teleurstel, as die geldsake nie wil klop nie, as jou huweliksmaat jou teleurstel, as die siekte nie wil genees nie – ag, sommer honderd en een dinge wat jou in die put van moedeloosheid kan laat beland. Moet tog net nie vir jou in daardie put tuismaak nie! Kom uit!

Luister net wat Paulus vir die moedeloses te sê het. Loof God, want Hy is die Een wat vir jou wil moed gee. In elke moeilikheid bemoedig God ons. Dink nou net mooi daaroor: al voel jy hoe moedeloos, is God besig om jou moed in te praat! Hoe doen Hy dit? Deur sy woord wat ryk is aan beloftes van hoop en lewensvreugde. En deur medegelowiges wat jou bystaan. Hoe kan jy dan God se helpende hand ignoreer?

En dan kom daar iets by. As God vir jou moed gee, moet jy weer ander mense wat moedeloos is, gaan bystaan. Hou maar net jou oë oop. Sien hulle raak en steek jou hand uit. En wat gebeur dan? Jy word self versterk en bemoedig en ervaar ten spyte van moeilike omstandighede die vrede en vreugde wat God vir jou gee.

Hou goeie moed, God is aan jou kant!

Bron:
Nogtans sal ek hoop deur Johan Smit
Uitgewer: Christelike Uitgewersmaatskappy

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.