Lees Psalm 55:16-23
Sy tong is gladder as botter, maar daar is oorlog in sy hart; sy woorde is so strelend soos olie, maar hulle is swaarde … (Psalm 55:22)
Hierdie psalm verloop soos vele van sy soort: die onreg wat die digter ly; sy pleidooi dat die Here tog moet hoor; sy “raad” aan die Hoorder (“Dryf hulle uitmekaar, Here …” – Ps 55:10); die vervloeking van sy vyande. Uiteindelik volg sy oortuiging dat die Here sal optree, gevolg deur sy troos aan almal wat hier lees: “Laat jou sorge aan die Here oor, Hy sal vir jou sorg” (v. 23).
In hierdie uittreksel brei die psalmdigter wel effens uit oor die teenstander se modus operandi. Hy skud as ’t ware sy kop oor die onvoorspelbaarheid van dié mens se optrede: sy mond sê so; sy hande doen sus. Eintlik is daardie vyand se woorde bloot goed gekamoefleerde wapens. Met die eerste hoor, klink dit mooi en goed en reg. Totdat jy ’n tweede keer daaroor dink en eers dán die steek daarin herken en voel.
Dit is presies hiér waar opregte boosheid skuilhou: woorde. Boosheid kruip agter maklike beloftes weg; dit dra die masker van vleitaal; dit lê onder die gladde klippe waaroor woorde soos water vloei; dit wag agter die skans van vriendskaplike onderhandeling. En wanneer jy dit die minste verwag, slaan dit toe. Vinnig, pynlik. Daarom is dit geen verrassing nie dat die Spreukedigter hom herhaaldelik uitspreek teen die goedkoop gebruik van woorde. En dat Jesus baie jare later uitdruklik teen kerkmense se misbruik van maklike “Here, Here”-woorde te velde trek (vgl. Matt 7:21-23).
Woorde is God se genadegawe aan stommerike soos ons; in die bose mond word dit gifpyle.
Leer mý, Here, om my woorde te tel. Om saggies en versigtig met my sêgoed om te gaan.