Gedagte vir die dag: Wapens van die waarheid

ATTACHMENT DETAILS Gestoor. Bybel_blaar_stiltetyd_pixabay.jpg

Foto: pixabay.com

Gebruik God se verlossing as ’n helm om julle koppe te beskerm. En gebruik die swaard van die Gees, dit is God se woord. (Efesiërs 6:17)

Ons het almal al die drake van lyding op ’n afstand gesien. Ons ruik die rook wanneer hulle hulle drake-asem oor ander mense se lewens spuug. Maar wanneer hulle jou stilletjies bekruip, skielik ’n valstrik vir jou stel, in jou gesig blaas en jy besef jý is nou midde-in die stryd, kan jy onvoorbereid voel.

Maar as jy afkyk, sal jy sien dat jy wapens vashou. Dalk het jy hulle nog nooit vantevore raakgesien nie omdat jy hulle tot nou toe nie regtig nodig gehad het nie. Tog het jy hulle uit gewoonte of instink min of meer gereed en skerp gehou. God stoot jou nie in die stryd in met splinternuwe toerusting nie. Stilletjies het Hy, dalk reeds jare lank, ononderbroke die wapens voorsien wat jy nodig het om lewend uit hierdie geveg te kom.

En jou wapens? Hulle bestaan uit die waarhede van die Woord. Klou aan hulle vas. Hulle is magtig teen die leuens van die vyand. Hulle is jou hoop op oorwinning.

Watter gewoontes kan jy aankweek om God se Woord deel van jou gevegstrategie en jou elkedagse denke te maak? Watter draak ook al vandag op jou spoor is, wat kan jy doen om dit met wapens van die waarheid te beveg?

Here, maak my dapper. Verstewig my greep op die swaard van die Gees – u Woord. Amen

Bron:
Omvou deur genade deur Dalene Reyburn
Uitgewer: Christelike Uitgewersmaatskappy

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.