Gedagte vir die dag: Wapens vir die sending

voete_beker_Stiltetyd.jpg

Foto: jamiegrubb.wordpress.com

“As Ek, wat julle Here en julle Leermeester is, dan julle voete gewas het, behoort julle ook mekaar se voete te was”. (Johannes 13:14)

Bediening in alledaagse omstandighede. Om in die alledaagse omstandighede te dien wat ons omring, beteken nie dat ons ons eie omgewing uitkies nie, dit beteken om beskikbaar en bruikbaar te wees in enige van die skynbaar toevallige omstandighede wat Hy vir ons bewerk. Daardie einste karakter wat ons in ons huidige omstandighede openbaar, is ook ’n aanduiding van wat ons in ander omstandighede sal wees.

Die dinge wat Jesus gedoen het, was van die geringste alledaagse take, wat ’n aanduiding is dat dit al God se krag in my vereis om selfs die algemeenste taak te voltooi. Kan ek ’n handdoek gebruik soos Hy dit gedoen het? Handdoeke, borde, sandale; al die gewone dinge in ons lewe openbaar vinniger as enigiets anders die stoffasie waarvan ons gemaak is. Dit vereis God Almagtig wat mens geword het in my om die mees algemene taak na behore te verrig.

Jesus het gesê: “Ek het vir julle ’n voorbeeld gestel, en soos Ek vir julle gedoen het, moet julle ook doen” (Joh. 13:15). Kyk na die tipe mense wat God rondom jou bymekaar bring en jy sal tot verootmoediging gebring word die oomblik wanneer jy besef dat God hulle gebruik om te openbaar watter soort persoon jy teenoor Hom is. Hy sê vir ons om teenoor die mense presies dít te betoon wat Hy teenoor ons betoon het.

Vind jy dat jy reageer deur te sê: “O, ek sal dit alles doen die oomblik dat ek in die sendingveld is”? Sulke praatjies is asof jy probeer wapens vervaardig terwyl jy in ’n loopgraaf op die slagveld lê: jy sal doodgemaak word terwyl jy probeer.

Ons moet die tweede kilometer met God stap (vgl. Matt. 5:41). Tog raak sommige van ons binne die eerste tien tree uitgeput. Dan sê ons: “Ek sal net wag tot ek nader aan die volgende krisis in my lewe kom.” Maar, as ons nie voortdurend in alledaagse omstandighede dien nie, sal ons niks beteken wanneer die krisis aanbreek nie.

Bron: My allerbeste vir Sy Hoogste deur Oswald Chamber
Uitgewer: Christelike Uitgewersmaatskappy/CUM

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.