Gedagte vir die dag: Ware tevredenheid

see_rotse_kaap_stiltetyd.jpg

Foto: Suné van Heerden

Lees: Filippense 4:1-6

Wees altyd bly in die Here! Ek herhaal: Wees bly! Wees inskiklik teenoor alle mense. Die Here is naby. Moet oor niks besorg wees nie, maar maak in alles julle begeertes deur gebed en smeking en met danksegging aan God bekend. (Filippense 4:4-6)

Ware tevredenheid is die vermoë om uit enige gegewe situasie die beste te haal wat daaruit te haal is, skryf GK Chesterton (Die groot aanhalingsboek). Ware tevredenheid kan joune wees as jou hele lewe op God gerig is; as jy Hom vertrou om vir jou net die beste te gee, ook wanneer die dinge wat Hy gee, dalk verskil van dit wat jy in die eerste plek wou hê. Omdat jy weet dat God jou Vader is, ’n Vader wat sy kinders liefhet en onderneem om elke dag vir hulle te sorg, sal jy kan vrede maak met jou omstandighede, selfs wanneer hulle (soos dié van Paulus) nie altyd positief is nie. Jy weet immers dat God almagtig is, dat Hy altyd in beheer is, ook wanneer dit nie vir jou so lyk nie. Los jou kommer en maak jou begeertes aan Hom bekend. Net dan sal daar ware tevredenheid in jou lewe wees.

In Filippense 4:8 vra Paulus dat die inwoners van Filippi hulle gedagtes sal rig op alles wat edel, reg, rein, mooi en prysenswaardig is. Wanneer jy daarin kan slaag om jou gedagtes vol te maak met God en sy beloftes, sal ware tevredenheid onlosmaaklik deel van jou lewe word. Deur sy genade gee God ons ’n innerlike kalm te wat uiterlike omstandighede nie van ons kan wegneem nie, skryf Barcley in sy boek The Secret of Contentment. Deur God se genade in jou eie lewe sal Hy dit vir jou ook moontlik maak.

Here, dankie vir u genade wat ware tevredenheid vir my moontlik maak. Ek wil nou my hele lewe op U rig en my gedagtes vul met u beloftes. Amen.

Bron:
Jy is myne deur Nina Smit
Uitgewer: Christelike Uitgewersmaatskappy

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Genieve Moses ·

Dankie Here dat U vanoggend vir ons se: Om altyddeur bly te wees al sou die omstandighede hoe groot is weet ons dat U inbeheer is.Vervul my meer en meer met U oorwindende krag in Jesus naam.Amen.

Rolene ·

Innerlike vrede wat alles daar buite te bowe gaan – Jesus vrede! Amen ja amen.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.