Gedagte vir die dag: Was my, reinig my!

 Stiltetyd_sonsondergang_vrou_Juanita.jpg

Foto: Juanita Badenhorst

Wees my genadig, o God, in u troue liefde, wis my oortredings uit in u groot barmhartigheid! Was my skoon van my skuld, reinig my van my sonde! Ja, my oortredings ken ek en van my sonde bly ek altyd bewus. (Psalm 51:3-5)

Psalm 51 is ’n boetepsalm. Die digter lê sy sondige hart bloot voor die Here. Die feit dat ons die geskiedenis van die teks ken, maak dit nog meer persoonlik. Ek kan my voorstel watter groot mediabelangstelling daar sou wees indien dié verhaal in ons eie tyd sou afspeel. En alhoewel die kommunikasie destyds veel stadiger was, kan ek tog reken dat daar heelwat oor Dawid se oortreding gepraat is. Daar sou seker heelwat mense wees wat erg teleurgesteld in hulle koning was. En om te dink dat hy van mening was dat hy nie uitgevang sou word nie!

Watter slegte stuk verhaal. Hoe tragies dat ’n mens se sondige natuur jou tot sulke walglike wangedrag kan dryf. Die omstandighede en tye verskil, maar inderwaarheid bly die verhoog nog dieselfde: Ons moet almal maar lig loop vir die gruwelike gevolge van sonde. Een sonde lei tot ’n ander. Dit verdoof ’n mens se sondebesef mettertyd. Totdat jy op ’n dag soos Dawid moet hoor: Jý is die man! En dan?

As jy met God in ’n verhouding staan, sal jy weet dat daar net één pad is om te loop, naamlik dié van sondebelydenis. En dit is presies wat Dawid doen. Hy is in sak en as voor die Here. Hy vra dat die Here hom sal skoon was van sy skuld en van sy sonde sal reinig. Sommer ’n maklike oplossing vir die probleem? Bid jou gou en maklik uit die skuld? Nee, opregte skulderkenning gaan altyd met opregte berou gepaard.

Bron:
In die skadu van die Allerhoogste deur Johan Smit
Uitgewer: Christelike Uitgewersmaatskappy

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.