Gedagte vir die dag: Wat ek het …

hande_stiltetyd_oud_pixabay.jpg

Foto: pixabay.com

Geld het ek nie, maar wat ek het, gee ek vir jou: in die Naam van Jesus Christus van Nasaret, staan op en loop! (Handelinge 3:6)

Dit was nog altyd besondere tye in die lewe van die eerste Christene, openbaringstye van wonders en weldadigheid. Petrus en Johannes het na die tempel opgegaan en ’n kreupele het by hulle gebedel. Petrus sê duidelik dat hy nie geld het nie, maar hom iets beters kan gee: herstel in die Naam van Jesus Christus. “Hy vat toe die man se regterhand en help hom op, en onmiddellik het sy voete en enkels sterk geword” (v. 7). Die geneesde man was oorstelp, en die mense wat dit gesien en hom herken het, was “verwonder”.

Al het die “gesamentlike besit” van die eerste gemeente na ’n kort periode misluk, was die gedagte van mededeelsaamheid en gee, van getuienis en liefde in Christus, van jammerte en meegevoel – die dinge wat Jesus so beklemtoon het – radikaal maar blywend, tot in ons dag.

’n Insident uit die lewe van die negentiende-eeuse Engelse digter Samuel T. Coleridge bring dit tuis. Coleridge het in Londen oor groot Britse skrywers gepraat en vertel van die beroemde dr. Samuel Johnson wat een aand ’n siek straatvrou op sy rug na sy huis gedra het en haar versorg het. Die “fatsoenlike” gehoor het onderlangs gegiggel en selfs hul kop afkeurend geskud. Coleridge het hulle blitsvinnig tot orde geroep met: “Mag ek u herinner aan die barmhartige Samaritaan en ‘Goud en silwer het ek nie, maar … ’” Geen verdere argument was nodig nie.

Soos jy het ek al dikwels gewens ek kan soos Petrus vir iemand sê: “In die Naam van Jesus, staan op … ” Ek het nie die gawe van genesing nie. Min mense het dit. Maar anders as Petrus hét ek iets in my beursie om te gee, en soos Petrus kan ek bid in Jesus se Naam vir krag vir die sieke of gekweste. En bid vir myself om ’n oop oog te hê, en ’n oop hart.

Bron: In die Teenwoordigheid van God deur Izak de Villiers
Uitgewer: Christelike Uitgewersmaatskappy/CUM

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.