Gedagte vir die dag:  Wat geloof is …

reenboog_veld_stiltetyd_Uganda_Marco-Brits.jpg

Foto: Marco Brits (Apoka Safari Lodge, Uganda)

Lees Hebreërs 11:1-3, 8-16

Om te glo, is om seker te wees van die dinge wat ons hoop, om oortuig te wees van die dinge wat ons nie sien nie. Dit is immers vanweë hulle geloof dat daar oor die mense van die ou tyd met soveel lof getuig is. (Hebreërs 11:1-2)

Hier is een van die mees geliefde definisies van geloof: “ … om seker te wees van die dinge wat ons hoop, om oortuig te wees van die dinge wat ons nie sien nie” (v. 1). Bekend, nè? Dit sê sommer lekker! Maar wanneer die Hebreërsskrywer hierop uitbrei en begin skryf oor die ou mense se geloof (vgl. v. 2) en onder meer uitvoerig oor Abraham s’n uitwei, begin ons dalk frons.

Want ons onthou mos van sy vrees vir die Egiptiese farao en hoe hy daarom gelieg het oor Sara (vgl. Gen 12:12-19). Oor hoe hy die Here se belofte oor ’n nageslag herhaaldelik bevraagteken het (vgl. Gen 15:1-8). Hoe hy sy eie “noodplan” met sy vrou se slavin gemaak het (vgl. Gen 16:1-4). Hoe hy die Here uitgelag het (vgl. Gen 17:17). Ensovoorts, ensovoorts.

En hý is ’n geloofsheld, een wat as rolmodel voorgehou word? Is dit die Bybelskrywers se idee van ’n navolgbare geloof? Is só ’n mens deur die ou kerkvaders as die “vader van die gelowiges” beskou?

Dit is so, ja.

Maar as ons nie die Bybelskrywers se oordeel in twyfel trek nie, en huiwerig is om dit met die ou kerkvaders s’n te doen, dan bly daar net een moontlikheid: Ons het nog altyd te vlak oor geloof gedink. Geloof het klaarblyklik niks met sondeloosheid of heiligheid of selfs ’n onberispelike verhouding met God te doen nie.

Geloof is dan, soos Abraham s’n blykbaar was, ’n lewenslange reis tussen twyfel en ’n besef van jou afhanklikheid van God. ’n Moeisame maraton wat al struikelende afgelê word, die oog op Jesus gevestig (vgl. Heb 12:2).

Here, ek dank U dat U my saamneem op die reis. Al my bagasie ten spyt.

Bron: Uit die Beek 2019 deur Barend Vos
Uitgewer: Lux Verbi

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.

1 Kommentaar

jongste oudste gewildste
Kiewiet

Mooi stukkie . Miskien beter te verstaan is dat geloof is in n persoon ;Jesus Christus , en die verhouding tussen geloof en rede wat soos die 2 vlerke van n duif is,en nie vyande van mekaar . Hier le die ongeloof in opgesluit St Anslam het gese “Faith seeking understanding ” amper soos a aktiewe Liefde vir God lei tot n soeke om God beter te verstaan Iets wat hierby aansluit maar op n ander vlak is Dark night of the soul ( John of the cross) Bottom line dit is reg om soms te twyfel jy is nie… Lees meer »