Gedagte vir die dag: Wat glo jy?

woestyn.jpg

Foto: pixabay.com

… enigeen wat ’n kind van God is, kan die sondige wêreld oorwin. En die oorwinning wat ons oor die wêreld behaal het, is deur ons geloof. Wie anders is dit wat die wêreld oorwin as hy wat glo dat Jesus die Seun van God is? (1 Johannes 5:4-5)

Daar is ’n storie wat vertel van ’n familie van muise wat in ’n groot klavier woon. Hulle is lief vir hulle klavierwêreld en die musiek wat hulle lewe met pragtige klanke vul. Die pragtige musiek betower en troos hulle. Hulle is gevul met bewondering vir die persoon wat die musiek maak. Alhoewel die musikant onsigbaar is, voel hy naby aan hulle. Hulle is lief daarvoor om oor die onsigbare pianis te dink en te praat – al kan hulle hom nooit sien nie.

Op ’n dag besluit ’n avontuurlustige muis om in die klavier op te klim. Toe hy na ’n tyd terugkeer, vertel hy vir die ander hy het ontdek hoe die musiek gemaak word. Die snare is die geheim – dit is waar die klanke vandaan kom. Só begin al hoe minder muise in die Onsigbare Klavierspeler glo, want die snare is dan al die tyd die bron van hulle musiek.

Heelwat later keer ’n ander muis terug van so ’n ekspedisie. By sy terugkeer deel hy sy nuwe ontdekking met die ander muise: Die hamers is die eintlike geheim. Daar is baie hamers wat op die snare dans. Baie ander muise gaan kyk toe en, sowaar … hulle sien self hoe die hamers op die snare dans. Hulle skuif die Onsigbare Klavierspeler nog verder uit hulle gedagtes.

Tog is daar ’n paar muise wat al hierdie stories oor snare en hamers as niks meer as teorieë beskou nie. Wanneer die musiek hulle wêreld vul, kom hulle bymekaar en praat met bewondering oor die Onsigbare Klavierspeler wat hulle lewe so mooi maak. Die ander muise skud net die kop oor dié muise wat in die Onsigbare Klavierspeler bly glo …

Ons leef in ’n tyd waarin mense meer rasioneel dink as ooit, bewyse soek vir alles en slegs geloof nie ’n opsie is nie. Gelowiges moet besef dit is nie deur eie prestasie dat ons die sondige wêreld oorwin nie maar slegs op grond van ons geloofsverbintenis aan Jesus Christus, die Oorwinnaar wat klaar oorwin het.

Bron:
Stilword vir vroue deur Liesel Krause-Wiid
Uitgewer: Carpe Diem Media

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.