Gedagte vir die dag: Wat God verwag

Vrou_stiltetyd_pixabay.jpg

Foto: pixabay.com

Wees altyd bly. Bid gedurig. Wees in alle omstandighede dankbaar, want dit is wat God in Christus Jesus van julle verwag. (1 Tessalonisense 5:16 – 18)

Die ma sê aan haar seuntjie: “Jannie, sit nou!” Die outjie is nie lus om te sit nie en hy kyk uitdagend na sy ma, sy arms voor sy bors gevou.

Sy sê weer, harder dié keer: “Jannie! Sit!” Toe gee hy in. Stadig sak sy lyfie op die stoel neer. Maar so met die gaan-sit-slag sê hy vir sy ma: “Ek sit dalk, maar binne-in my staan ek!”

Té dikwels het ek al gevoel dat ek so met die Here maak. Ek doen wat Hy vra, maar binne-in my woed my eie begeertes. Wat telkens téén dit is wat Hy van my verwag.

Maar wanneer ek op my lewe terugkyk, weet ek dat God se wil uiteindelik die beste weg is. Sy beginsels en bepalings bring lewe. Sy wette en eise is goed en suiwer.

Daar is baie opdragte wat uit die Bybel na ons toe kom. In 1 Tessalonisense 5 noem Paulus byvoorbeeld vyf dinge wat God van ons verwag: wees altyd bly; bid gedurig; wees dankbaar; moenie die Heilige Gees teenstaan nie; bly weg van wat sleg is.

Maar by slegs een van hierdie opdragte, dié oor dankbaarheid, voeg Paulus by: “(W)ant dit is wat God in Christus Jesus van julle verwag.”

Ja, God verwag van ons om dankbaar te wees. En dit vanweë Jesus se aardse lewe, sy sterwe, sy oorwinning oor die dood. Sy mag oor sonde, sy vrymakende krag wat in ons werk, sy genade en liefde en trou. Dit is waarom ons dankbaar moet wees soos God dit van ons verwag.

Dit behels tog nie dankbaarheid vir al die slegte dinge wat hierdie gebroke wêreld aan ons opdis nie. Dis wel om dankbaar te wees in alle swaar, ingewikkelde, veeleisende omstandighede. Dis om dankbaar te wees omdat Jesus saam met ons in hierdie situasies is en weet hoe dit voel.

God verwag van ons om dankbaar te wees, en daarom gee Hy sy Gees aan ons om ons te help om sy opdragte uit te voer. Nie soos willose robotte nie, maar soos sy kinders dit doen: met ons hele hart.

Jesus, dankie dat U my die krag en genade gee om in alle omstandighede dankbaar te wees.

Bron:
100 dae van dankbaarheid deur Francine Prins
Uitgewer: Lux Verbi

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

7 Kommentare

Von ·

Here Jesus U wat my ten diepste ken weet hoe dikwels ek teleurstel maar U reddende krag en liefde het U aan die kruis bewys, dankie vir genade , groter en dieper en wyer as wat my verstand dit kan bedink…….Amen

Franco ·

As iemand beheer hy of sy weet wat God verwag of dink is dit in my opinie arrogant en disrespekvol. Dink mooi hieroor na. ‘n DEIS noem so ‘n geloof ‘n “revealed religion”. M.a.w. Iemand wat deur God bevoordeel word, hoor wat God wil hê en al die mense luister na dié persoon.

OWO ·

@Franco.Ek dink jy verwar Deïsme met Gnostiek.Deïsme glo wel aan God wat alles gemaak het maar Hom dan terug trek en nie betrokke is by wat op aarde aangaan nie.Dit sou ‘n erge refleksie op Hom werp(Voorsienigheid)
Die Gnostici beweer dat net hulle oor die geheime kennis beskik wat mense weer met die Godheid in aanraking kon bring.Hulle teer dus op die Christelike godsdiens.Ek stem dat ons nie weet wat God dink nie maar wat Hy van ons verwag,kom duidelik in die Woord voor.

Gerrie ·

Die Christen geloof is bedoel om swaarmoedigheid te vermy. Hy wat die Gees in hom het sal altyd verhef wees bo ander. Jy is afhanklik van God vir alles wat goed is in jou lewe want sonder Hom kan jy niks doen nie. Voel daardie afhanklikheid van Hom te alle tye en jy sal altyd in die gees van gebed lewe. Vir hierdie rede werk alles ten goede uit vir hom wat God liefhet.

Johan ·

Baie dankie Here dat U in ons lewens is. Dankie vir al U genade. Amen!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.