Gedagte vir die dag: Wat God wil, kan Hy doen

OLYMPUS DIGITAL CAMERAMark. 1:40 – “Daar kom toe ’n melaatse man na Hom toe wat smekend op sy knieë voor Hom neerval en vir Hom sê: ‘As U wil, kan U my gesond maak”.

“As U wil, kan U my gesond maak.” So ʼn versoek kan ʼn mens net aan God rig. Dit sou onredelik en onbillik wees om dit van enige mens te verwag. ʼn Dokter, ʼn spesialis, ʼn ryk man – ja, daar is baie dinge wat hulle kán doen. Hulle kan egter nie álles doen nie, al wíl hulle.

ʼn Gewilde sêding wat ons in die laaste paar jaar dikwels in motiveringspraatjies in kerklike en sekulêre kringe hoor, lui: “As jy dit kan droom, kan jy dit doen.” Ongeag hoe mooi en positief hierdie woorde klink, is dit nie ʼn absolute waarheid nie. Daar is baie dinge wat ek en jy kan droom en wat ons graag wil doen, maar ons kan dit nie doen nie. Nie eens die magtigste mens op aarde sou dit kon regkry nie. Die Here is die enigste Een wat kan doen wat Hy wil. Ek wil dit herhaal: Wat God wíl, kán Hy doen. Omdat Hy God is. Omdat Hy almagtig is.

“As U wil …” Dié mense wat hulle geheel en al aan God se wil toevertrou, word die gouste en maklikste gehelp. Dit is so belangrik om eerlik en met die vertroue van ’n kind die wil van die Here te soek. Natuurlik is daar sekere dinge wat ons weet altyd die wil van die Here is. Dit is byvoorbeeld nie nodig om te sê: “As dit u wil is, red my kind nie.” Dit is God se geopenbaarde wil om mense te red – Jesus het gesterf omdat God die “wêreld” so liefgehad het.

As dit egter nie sy wil is om iets te doen nie, moet ons vertolking daarvan nooit wees dat Hy ons nie liefhet nie. God het ons altyd lief.

Gebed: “Ek wil soos ’n kind vertrou dat U wil vir my altyd die beste sal wees, Here. Amen.”

Outeur: Dr. Isak Burger: President van AGS van SA

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.