Gedagte vir die dag: Wat het jy aangevang?

vuur_man_stiltetyd_pixabay.jpg

Foto: pixabay.com

En toe gebeur dit! Net toe hy die brandoffer klaar verbrand het, kom Samuel daar aan. Saul het na hom uitgegaan om Samuel te groet. Samuel vra hom toe: “Wat het jy aangevang?”. (1 Samuel 13:10-11)

Saul was nie ’n swak of deur en deur ongehoorsame koning nie. Hy was nie ’n swak regeerder of swak aanvoerder van sy leër nie. Hy was ook nie sonder God nie. Maar daar was ’n streep van eiegeregtigheid in hom wat as ’n wilde loot uitgegroei het soos uit die onderstok van ’n goeie roos en algaande begin oorneem het.

Sy koningskap het begin met ’n geveg teen die Filistyne; en die Filistyne sou sy einde beteken. Maar eintlik was die wilde lote van sy persoonlikheid sy ondergang. Hier het hy, bevrees voor die vyand, dit sommer op hom geneem om priester te speel en die offers te bring. ’n Mens wil dit byna ’n soort bygeloof noem, dat God sal help wanneer offerrook – enige offer van wie ook al – opgaan. Toe Samuel opdaag, bestraf hy Saul. ’n Opregte gebed van Saul sou meer beteken het as sy offer. Hy kry ook die eerste waarskuwing oor sy koningskap.

Waarom gebeur dit? Het God Saul dan nie uitgekies nie? Hy moes tog geweet het Saul sou misluk. Om oor God se manier van doen te teoretiseer – soos ook oor die uitverkiesing – is soos om die Himalaja-gebergte op een gedrukte bladsy te kry. Enige koerantman weet wat dit beteken. Dis nie net onmoontlik nie, dis tweedimensioneel, terwyl die Here se werk multidimensioneel is. Maar die feit dat ’n mens iemand liefhet en ken en dus weet wat hy gaan doen nog voordat hy dit doen, beteken nie dat daardie persoon nie steeds kan doen wat hy self verkies om te doen nie.

Die Here ken ons, maar laat ons met ’n keuse. Die keuse is ’n eenvoudige, diepgevoelde gebed: “Here, wat wil U hê moet ek doen?” En as ek dan verkeerd verstaan of struikel … sal die Here as Vader verstaan en vergewe.

Bron: In die Teenwoordigheid van God deur Izak de Villiers
Uitgewer: Christelike Uitgewersmaatskappy/CUM

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.