Gedagte vir die dag: Wat hoop ek vir myself?

God-sentrum-van-my-lewe

Argieffoto.

Al wat ek wens, is om Christus te ken, die krag van sy opstanding te ondervind en deel te hê aan sy lyding deur aan Hom gelyk te word in sy dood, in die verwagting dat ek self deel sal hê aan die opstanding uit die dood. (Filippense 3:10–11)

Wat hoop jy vir jouself? Hoop jy om eendag ryk en suksesvol te wees en genoeg geld bymekaar te maak om vroeg af te tree? Wens jy jy het soveel geld soos Bill Gates of Oprah Winfrey sodat jy kan uitdeel sonder om veel te verloor? Of maak geld nie saak nie, solank jy twintig kilogram ligter kan wees of ’n plastiese sjirurg jou neus kan kleiner maak? Werk jy aan jou droom om eendag ’n bekwame parlementslid, ’n professor in astrofisika, ʼn skoonheidskoningin of ’n belangrike man se vrou te wees?

Paulus was ’n geleerde, ’n Fariseër van formaat, ’n filosoof wat aan die voete van die wysgeer Gamaliël gesit het, maar sy enigste wens is om Jesus te ken en aan sy lyding en dood gelyk te word. Nie alleen is hy geboei en in die gevangenis gegooi nie, maar hy was dikwels in doodsgevaar. Die Jode het hom vyf maal die gebruiklike straf van 39 houe toegedien, hy het drie maal lyfstraf gekry, is met klippe gegooi en het drie maal skipbreuk gely. Hy het te voet gereis deur vol riviere en oor bergpasse. Rowers, heidene en vals broers het hom aangeval. Hy het nagte onder die oop hemel deurgebring, dae sonder kos en skuiling’ (lees 2 Korintiërs 11:24–27).

Wil jy Jesus ook so leer ken? Is jy bereid om swaar te kry ter wille van Hom? Sien jy kans om geslaan en gemartel te word? Sal jy sy dood kan sterf? Dit is moontlik dat jy in jou leeftyd aan vervolging onderwerp sal word. Wat gaan jou antwoord wees?

Liewe Here Jesus, hoe nader aan U, hoe makliker om saam met U te sterf en saam met U op te staan.

Bron:
Liefde vir elke dag deur Helena Hugo
Uitgewer: Struik Christian Media

Boeke deur Helena Hugo is nou beskikbaar by CUM Boeke
Vir meer geestelike artikels besoek  Joy! Digital  

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.