Wanneer julle julle lande oes, moenie die graan tot teen die kantemvan die veld oes nie, en moet ook nie dit optel wat val nie. (Levitikus 19:9)
Terwyl koffie wêreldwyd al hoe gewilder raak, is daar van die koffieboere in produksielande wat soms nie eens hul koste kan dek nie.
Die kommoditeitspryse op die New Yorkse aandelebeurs wissel maar soos die geval is met kommoditeite, en baie lae verhandelingspryse maak dit vir die boere – sommige is baie arm – onmoontlik om te oorleef. Pryse van so laag soos ’n paar rand per kilogram word soms behaal en boere word genoodsaak om van hul werkers af te dank en selfs van hul plase te verkoop. Hul kinders word ontmoedig om deel van die koffie-erfenis te word en eerder na alternatiewe te kyk. Ander kontantgewasse word al hoe meer geplant.
Koffie in restaurante word uiteraard nie goedkoper verkoop wanneer die kommoditeitspryse daal nie. Dit help net die restaurant-eienaar (of kleinhandelaar) om sy winsgrens te vergroot.
Hoewel al die koffieprodusente ongelukkig nie daarby baat nie, is daar mense wat dit raaksien. Vandaar organisasies soos Fairtrade, wat hom daarvoor beywer om die boere billiker te behandel. Dit is immers ons Christelike plig om dié te help wat dit nie so breed het wat aardse besittings betref nie. Ons kan nie net toekyk dat mense ten koste van ander ryk word nie. En wanneer ons kan, soos Levitikus sê, moet ons ook ’n deel van die seën wat na ons kom met die armes en die vreemdelinge deel: Moenie die kant van die veld oes nie; moenie elke moontlike druiwetros afpluk nie.
Dis baie waar en mooi genoem maar meestal help die armes hulle self aan dit wat hulle nodig het. Here seen SA. Maak ons n vredevolle en liefdevolle land.