Gedagte vir die dag: Wat is die ewige lewe?

sonsopkoms_lewe-voluit_stiltetyd_pixabay.jpg

Foto: pixabay.com

U het [die Seun] immers die volmag oor die hele mensdom gegee om aan almal wat U Hom gegee het, die ewige lewe te gee. En dit is die ewige lewe: dat hulle U ken, die enigste ware God, en Jesus Christus, wat deur U gestuur is. (Johannes 17:2-3)

Het jy geweet dat jy reeds hier en nou al die ewige lewe het? Die ewige lewe begin nie eers eendag as jy sterf nie. Die Woord van God leer dat wanneer jy God die Vader deur middel van Jesus Christus sy Seun ken en in Hom glo, het jy die ewige lewe. Met ander woorde, om ’n persoonlike verhouding met God te hê, is om die ewige lewe nou al te besit. Augustinus stel dit mooi wanneer hy sê: “Sluit ’n verhouding met die ewige God en jy sal vir ewig lewe.” Die ewige lewe word dus hier op aarde al bekom deur ’n geloofsoorgawe aan Jesus Christus.

In die hemel sal ons nie hartseer of siekte of dood ken nie, nee daar sal ons net vreugde en vrede en ware liefde ken. Hoe wonderlik om te dink dat ons hier op aarde al iets daarvan kan ervaar. Wanneer ons ons lewe algeheel aan God oorgee en ’n intieme verhouding met Hom het, beleef ons ware blydskap en kalmte, dieselfde soort wat ons in die hemel sal ervaar. Ons kan dus sê dat hierdie lewe ’n tipe voorbereiding vir die ewige lewe is. Dit is nie iets wat doer ver in die toekoms lê nie maar ’n kwaliteit van lewe wat reeds nou beskikbaar is.

Hoekom voel dit dan nie aldag asof ons die ewige lewe hier op aarde al besit nie? Hoekom beleef ons so min daarvan en leef ’n middelmatige lewe terwyl die Here vir ons veel meer in gedagte het? Ek dink daar is verskeie redes hiervoor om net ’n paar te noem: ons maak soms meer van “mensgemaakte godsdiens” as van ons verhouding met God, daar is nie lewe in godsdiens nie. Ons moet wegbeweeg van “godsdiens” en begin werk aan ’n verhouding met Jesus.

Daar is natuurlik twee ander verhoudinge wat ook belangrik is as ons die lewe wil hê wat Jesus vir ons bedoel het. Ons kan nie hier volledig daarop ingaan nie, maar dit is ons verhoudinge met die mense wat naby aan ons is, ons gesin en medegelowiges in die gemeente, asook met diegene wat buite die dampkring van God se liefde is. Dis as ons werklik die lewe in oorvloed hier en nou al wil beleef.

Bron:
Stilword vir vroue deur Liesel Krause-Wiid
Uitgewer: Carpe Diem Media

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Eish ·

En niemand het opgevaar in die hemel nie, behalwe Hy wat uit die hemel neergedaal het, naamlik die Seun van die mens wat in die hemel is.
JOHANNES 3:13 AFR53
Die fout wat gemaak word in teenstelling met wat die Woord sê is dat ons iewers hemel toe gaan.
Die Woord sê baie duidelik dat Yeshua terugkeer aarde toe en Sy koninkryk hier kom vestig. Ons gaan dus nêrens heen nie. Die wat in Hom gesterf het het deel aan die eerste opstanding en oor hul het die tweede dood geen mag nie. Hul gaan in Sy diens wees hier op aarde.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.