Gedagte vir die dag: Wat is geloof?

Moerbeiboom_stiltetyd_pixabay.jpg

Foto: pixabay.com

“Gee ons meer geloof.” Maar die Here antwoord: “As julle maar geloof so groot soos ’n mosterdsaadjie gehad het, sou julle vir hierdie moerbeiboom kon sê: ‘Trek jou met wortels en al uit die grond uit en plant jouself in die see,’ en hy sou julle gehoorsaam.” (Lukas 17:5-6)

’n Verhaal in die Joodse midrasj vertel: toe Moses destyds sy staf oor die Rooi See uitgestrek het, het die verwagte wonderwerk nie gebeur nie. Dit was eers toe die eerste man vol vertrou op God se reddingsdaad sy voete in die water gesteek en begin loop het dat die branders teruggetrek en die water verdeel het sodat die Jode op droë grond deur die see kon loop.

In vandag se bronteks sê Jesus dat selfs ’n klein bietjie geloof wonders kan verrig. Wat is geloof nou eintlik, vra jy dalk? Dit is algehele afhanklikheid van God en ’n gewilligheid om sy wil te doen. Dit is nie iets wat ons gebruik of voorgee om ander mee te beïndruk nie. Dit is algehele en nederige gehoorsaamheid aan God se wil en gewilligheid om te doen wat Hy ons beveel om te doen, wat dit ook al mag wees.

Net soos ’n mosterdsaadjie wat maar bitter klein is geweldig groot kan word, só kan ’n bietjie opregte geloof in God wortelskiet en groei. Ons het dus nie méér geloof nodig nie. Nee, ’n enkele klein saadjie is genoeg, mits dit lewend is en groei. Hoe hou ons ons geloof lewend? Ons voed dit deur die Woord. Wanneer ons die Bybel lees, inspireer God ons deur sy Gees om Hom te vertrou. Deur op ons lewe terug te kyk en onsself daaraan te herinner hoe God altyd daar was, versterk ons geloof. ’n Dankbaarheidsjoernaal sal verder help om nie van God se goeie werke in ons lewe te vergeet nie. Lees dit gereeld en veral in hooplose tye. Vra God om jou die gawe van geloof te skenk. Dit is bo alles ’n geskenk uit sy hand wat dit moontlik maak om Hom te vertrou en naby Hom te leef.

Ferdinant Deist het gesê:

“Geloof maak nie blind soos mense soms beweer nie, geloof is geen opium nie. Geloof is ’n leefwyse. ’n Lewenswyse uit die versekering dat God regeer.”

Bron:
Stilword vir vroue deur Liesel Krause-Wiid
Uitgewer: Carpe Diem Media

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

lou w van schalkwyk ·

geloof is vir my dit wat my denke oorskry en my vooruitgaan

Seerot ·

God het my gebed verhoor ten spyte van my ongeloof. God leef.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.