Gedagte vir die dag: Wat is jou erfenis?

sonsopkoms_vrou_stiltetyd_pixabay.jpg

Foto: pixabay.com

Trek die nuwe mens soos skoon klere aan, die mens wat na God se beeld geskape is: iemand wat werklik reg lewe voor God en werklik aan Hom toegewy is. (Efesiërs 4:24)

My ouers kom albei van die noordooste van Skotland, en ons het ons eie tartan. Ek het ’n nasionale Skotse rokkie wat baie jare gelede vir my gegee is en wat ek na my jongste dogter, Jilly, se troue aangetrek het.

’n Paar dae ná die troue het ’n groot, sterk, jong Zoeloe-man na my toe gekom en vir my gesê dat dit vir hom lekker was om my die familietartan te sien dra en my kultuur sonder skaamte te vertoon. Hy het gesê dat die meeste jong mans te verleë is om hul rokkies te dra, wat in die Zoeloe-kultuur van diervelle gemaak word.

Ek het vir hom gesê solank ons wortels nie op enige manier met die leringe van ons Jesus Christus bots nie, ek nie ’n probleem daarmee het nie. Die oomblik wat daar egter verskille tussen ons kultuur en God se Woord ontstaan, moet ons kulturele erfenis tweede kom. Sommige mense glo dat Christenskap by verskillende kulture moet aanpas, maar ek dink dis heeltemal verkeerd. Wanneer mense God ernstig begin opneem, moet hulle begryp dat hulle nuwe mense in Christus is. Hulle ontvang ’n nuwe kultuur wanneer hulle tot geloof kom. Ek kom uit ’n baie sterk Skotse agtergrond wat oor baie geslagte strek, maar toe ek my lewe vir Jesus Christus gegee het, het my kulturele erfenis tweede plek ingeneem.

Die kultuur waarin ons deur Jesus Christus gebore is, het nog nooit in meer as twee duisend jaar verander nie. Dis ’n kultuur wat teruggaan na die heel begin, na Adam en Eva, ’n erfenis waarin die Here self, ons hemelse Vader, bedoel het ons in moet leef en floreer.

Jesus het gesê Hy het gekom sodat ons die lewe in oorvloed kan hê, maar ons moet volgens God se kultuur leef, nie ons eie kultuur nie. Ons kulturele erfenis mag nooit voorrang geniet bo ons geloof in Jesus Christus nie.

Dierbare Here Jesus, dankie dat U in staat is om kulturele en rasseverskille te oorkom. Help my asseblief dat ek nooit sal dink my kulturele erfenis is belangriker as u bepalings nie. Ek bid dit in Jesus se Naam. Amen.

Bron:
Genade in oorvloed deur Angus Buchan
Uitgewer: Christelike Uitgewersmaatskappy

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.