Gedagte vir die dag: Wat is ’n gewete?

 arms_uitgestrek_man_stiltetyd_pixabay.jpg

Foto: pixabay.com

Broers, ek het heeltemal ’n skoon gewete oor hoe ek tot vandag toe my lewe in diens van God gelei het. (Handelinge 23:1)

Mense se ingeboude alarm van reg en verkeerd is hulle gewete. Om te sê “sy gewete pla hom”, beskryf dit mooi. Ons kan sê dis ’n ingeboude morele polisieman. Ons elkeen het ’n gewete, maar nie almal s’n werk reg nie. God is die definieerder van wat reg en verkeerd is, maar dit wil nie sê dat ons gewete met God saamstem nie. Die Heilige Gees werk deur ons gewete, maar dis baie moontlik dat ons so afgestomp en verdraai is dat ons nie hoor wanneer die Heilige Gees ons waarsku nie.

Ons lees in vandag se Bybelgedeelte Paulus verklaar in die hof dat hy met ’n goeie gewete voor God gewandel het. Hoe kon Paulus dit sê? Hy het dan Jesus se dissipels vervolg en selfs laat doodmaak! Hoe kon hy sê hy het dit met ’n goeie gewete gedoen? Die waarheid is – hy het! Sy sin van reg en verkeerd was so verdraaid dat hy gedink het hy doen ’n goeie ding. Dis heeltemal moontlik om ’n totaal korrupte ingeboude morele polisieman te hê wat sleg goed noem en goed sleg. God sê aan Jesaja: “Wee hulle wat sleg goed noem en goed sleg, wat die duisternis lig maak en die lig duisternis, wat bitter soet maak en soet bitter” (5:20, Bybel in Afrikaans 1933/1953). Die gewete kan in hoofsaaklik vier kategorieë beskryf word: ’n gebrandmerkte gewete (1 Tim 4:2, Bybel in Afrikaans 1933/1953), ’n swak gewete (1 Kor 8:12), ’n goeie gewete (1 Tim 1:19) en ’n onwedergebore gewete. Laasgenoemde term is my manier om ’n gewete te beskryf wat slegte dinge toelaat om dat die gewete dink dis goed.

Mag jy in die volgende paar dae goeie insig in jou hart en lewe kry sodat jy in alles rein voor God kan staan.

Bron:
Op vlerke van geloof deur Riekert Botha
Uitgewer: Christelike Uitgewersmaatskappy

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Meinie ·

Goeie more wat is die korrekte vers vir ‘n skoon gewete? 1 Timoteus het net 6 verse. Seengroete

Mien ·

In my Bybel het 1 Tim 1 wel 20 verse en die vers waarna jy soek is vers 19 soos aangehaal. Dit is die 33/53 vertaling.

Adele ·

Ai Riekert dankie vir nog ‘n op-die-man-af-boodskap, wat nie teologies so hoog is dat ons “pleppe” dit nie kan verstaan en in ons lewens kan toepas nie!

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.